Vandag wil ek ietwat wegbeweeg van ‘n suiwer finansiële preek en op die karaktereienskappe van suksesvolle entrepreneurs fokus, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Gedurende die afgelope dertig jaar in die sakewêreld was ek in die bevoorregte posisie om te kon waarneem hoekom sekere persone suksesvol is en ander nie.

Hulle glo in hulself; tot die man toe. Dis hoekom ek gedurig sê die beste belegging is om in jouself te belê – en dan praat ek nie van motors, klere en duursaamhede nie.

‘n Belegging in jou eie onderneming gee normaalweg ‘n bogemiddelde opbrengs en jóú beheer oor jou toekoms.

Entrepreneurs het die vermoë om besluite te neem. Hierdie eienskap is kardinaal belangrik aangesien besluite daartoe lei dat dinge gebeur.

Ongelukkig plaas dit druk op individue omdat daar dikwels vinnige en ongewilde besluite geneem moet word. Goeie sakegeleenthede kan egter skipbreuk ly wanneer daar ‘n gebrek aan spoedige besluitneming is.

Soms gaan verkeerde besluite geneem word. Dit is deel van besigheid en daar moet planne in plek wees om ‘n alternatief in werking te stel.

Waagmoed, of meer wetenskaplik gestel, ‘n aptyt vir risiko is ‘n verdere en noodsaaklike karaktereienskap van ‘n entrepreneur. As jy nie bereid is om uit jou gemaksone uit te beweeg nie, gaan jy sukkel om groot suksesse te maak.

Die sakewêreld is maar ‘n onsekere omgewing en faktore wat buite ons beheer is, kan ‘n groot invloed hê. Die Engelse praat van “herd behaviour” wat jou nêrens gaan bring nie – jy sal moet waag om, soos die spreekwoord sê, te kan wen.

Dink gróót! Baie van ons onderskat ons vermoë en dink in die proses te klein. Dit kan en sal die groei van jou onderneming beïnvloed.

Suksesvolle sakemense maak tyd om te dink. Maak seker jy kom uit die enjinkamer van jou besigheid uit om aandag aan aspekte soos toekomstige strategieë en moontlike sterk- en swakpunte te bestee.

Omring jou met die regte mense. Mense wat die bottel halfleeg sien kan jou en jou onderneming negatief beïnvloed.

Dit alles beteken natuurlik net mooi niks as jy nie bereid is om hard en met toewyding te werk nie.

Jy moet ‘n absolute passie hê om jou planne tot uitvoering te bring. Baie droom groot, maar misluk wanneer dit by uitvoering kom.

Onthou, teleurstellings en mislukkings is deel van die groeiproses. Wees geduldig en moenie dat dit jou langtermynplanne beïnvloed nie.