Ons het verlede maand oor die risiko-aspek van ‘n deeglike finansiële plan gepraat en daarom wil ek vandag by die ander deel, die beleggingselement, stilstaan, skryf Pieter Willem, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Kenners reken minder as vyf persent van Suid-Afrikaners kan finansieel onafhanklik aftree en die doodeenvoudige rede is omdat hulle te min en te laat begin spaar.
Warren Buffet – een van die rykste mense ter wêreld – het reeds op 14 in ‘n aandeleportefeulje begin belê en vandag is hy welbekend as die persoon wat vir ons leer om te spaar voor ons spandeer en nie andersom nie.
Dis partykeer makliker gesê as gedaan omdat ons nie altyd die kennis en insig het om te weet presies hoeveel en waar nie. Die regte antwoord kan selfs wissel en ook van verskeie faktore afhang.
‘n Paar hiervan is ouderdom, aptyt vir risiko, aftreebehoeftes, likiditeit, teikenopbrengste, waarborge en belasting. Die enigste konstante is om so vroeg moontlik te begin.
Ek dink daar is dikwels ‘n wanpersepsie oor wat spaar is. Die konsep strek veel wyer as om net ‘n maandelikse bedrag iewers te belê.
Byvoorbeeld, wat is ‘n belegging in jouself dan nou anders as om te spaar? Ondervinding het my geleer dat om in jou eie onderneming te belê dikwels groter opbrengste as enige ander bateklas kan oplewer.
Dit gesê, die goue antwoord is meermale ‘n gediversifiseerde beleggingsportefeulje waar jou geld in verskillende bateklasse belê word – van genoteerde aandele aan die risiko-kant tot vaste, rentedraende beleggings aan die ander.
En koop gerus so vinnig moontlik ‘n blyplek. Daai maandelikse paaiement op jou huis of woonstel is niks anders as om te spaar nie.
My boodskap is eenvoudig: hoe langer jy wag, hoe moeiliker raak dit om finansieel onafhanklik te word.
Gaan praat vandag nog met ‘n “finansiële dokter” as jou plan ietwat ongesond is. In die langtermyn sal jy nie spyt wees nie.