Dit is belangrik om die volle omvang van trusteeskap te verstaan aangesien daar ’n risiko van persoonlike aanspreeklikheid is.

Ingevolge die nuwe artikel 11A van die Wet, plus regulasies, word daar nou bykomende verpligtinge op trustees geplaas.

Hierdie wetgewing is deur die parlement ingestel om geldwassery en finansiering van terrorisme te probeer bekamp.

Ingevolge dié bepaalde artikel moet ’n trustee onder meer ’n lys van die trust se voordeelgeregtigdes opstel en op datum hou.

Voordeelgeregtigdes is diegene wat die trusteiendom uiteindelik regstreeks of onregstreeks besit asook die persone wat beheer oor die administrasie van die trust uitoefen – dus die oprigter, trustees en elke begunstigde wat by naam in die trustakte genoem word.

Die trustee moet verder ook sekere voorgeskrewe inligting met betrekking tot hierdie voordeelgeregtigdes op rekord hou asook ’n register met hul name by die meesterskantoor indien.

Die doel van die nuwe reëls is om ’n mate van deursigtigheid te bied ten opsigte van die beheer van trusts vóór die bates of inkomste uit bates aan die begunstigdes toegewys word.

Die trustees moet onder meer die volgende inligting met betrekking tot bogemelde persone bygewerk hou: ID- of paspoortnommer, burgerskap, pos- en woonadres asook ander kontakbesonderhede, belastingnommer en datum waarop die persoon opgehou het om ’n voordeelgeregtigde te wees.

Indien die voordeelgeregtigde minderjarig is, moet dieselfde inligting van die wettige voog voorsien word.

Die meester het ’n elektroniese register van voordeelgeregtigdes op sy webwerf waarop die gemelde inligting deur die trustees voorsien en bygewerk moet word.

Ingevolge die regulasies is toegang tot die inligting beperk tot sekere staats- en ander instellings.

Indien trustees versuim om die aanmeldingsvereistes na te kom, stel hulle hulself bloot om aan ’n misdaad skuldig bevind te word. Die straf is ’n boete van R10-miljoen of tronkstraf van tot vyf jaar, of albei.

Dit is duidelik ’n groot verantwoordelikheid. Trustees stel hulself bloot indien hulle oningelig en onbetrokke ten opsigte van die administrasie van die trust en trustreg is.

Kontak iemand wat op hierdie gebied spesialiseer om te vermy dat jy jouself dalk onwetend die gramskap van die wet op die hals haal.