Dinge soos ‘n pap ekonomie, politieke onsekerheid, ‘n hoë werkloosheidsyfer, geweldsmisdaad en swak beleggingsopbrengste is genoeg om enigeen mismoedig te maak, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

Behalwe dalk die ware entrepreneurs in ons midde wat baie van hierdie toestande as geleenthede sien.

Gedurende my 32 jaar in die sakewêreld was ek in die bevoorregte posisie om te kon waarneem hoekom sekere persone suksesvol is en ander nie.

Wat soos ‘n paal bo water uitstaan, is dat hulle in hulself glo – tot die man toe. Dis hoekom ek altyd sê die beste belegging is in jouself, maar dan praat ek nie van motors, klere en duursaamhede nie.

‘n Belegging in jou eie onderneming gee normaalweg ‘n bogemiddelde opbrengs en jou beheer oor jou toekoms.

Entrepreneurs het natuurlik die vermoë om besluite te neem. Hierdie eienskap is kardinaal belangrik aangesien besluite daartoe lei dat dinge gebeur.

Ongelukkig plaas dit druk op individue omdat daar dikwels vinnige en ongewilde besluite geneem moet word. Goeie sakegeleenthede kan egter skipbreuk ly wanneer daar ‘n gebrek aan spoedige besluitneming is.

Verkeerde besluite gaan soms geneem word, maar dis deel van besigheid. Daar moet altyd planne in plek wees om ‘n alternatief in werking te stel.

Waagmoed of, meer wetenskaplik gestel, ‘n aptyt vir risiko is ‘n verdere en noodsaaklike karaktereienskap van ‘n entrepreneur. As jy nie bereid is om uit jou gemaksone uit te beweeg nie, gaan jy sukkel om groot suksesse te maak.

Die sakewêreld is maar ‘n onsekere omgewing en faktore wat buite ons beheer is, kan ‘n groot invloed hê. Herd behaviour, soos die Engelse sê, gaan jou nêrens bring nie – jy moet letterlik waag om te kan wen.

Dink gróót! Baie van ons onderskat ons vermoë en in die proses dink ons te klein. Dit kan en sal die groei van jou onderneming beïnvloed.

Suksesvolle sakemense maak tyd om te dink. Maak seker jy kom uit die enjinkamer uit om aandag aan toekomstige strategieë asook sterk- en swakpunte te bestee.

Omring jouself met die regte mense. Mense wat die bottel halfleeg sien kan jou en jou onderneming negatief beïnvloed.

Dit alles beteken natuurlik niks as jy nie bereid is om hard en met toewyding te werk nie.

Jy moet ‘n absolute passie hê om jou planne tot uitvoering te bring. Baie droom groot, maar misluk wanneer dit by uitvoering kom.

Onthou, teleurstellings en mislukkings is deel van die groeiproses. Wees geduldig en moenie dat dit jou langtermynplanne beïnvloed nie.