Onstabiliteit in finansiële markte ná terroriste-aanvalle, natuurrampe en politieke woelinge lei dikwels tot paniekerigheid en laat beleggers emosionele besluite neem, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Ekonome maan teen emosionele besluite wat langtermyndoelwitte negatief kan beïnvloed. Op dié terrein moet ‘n mens te alle tye deurdagte besluite neem wat op logiese en redelike denke gegrond is.
Terwyl emosie tot paniek kan lei wanneer die ekonomie sukkel, kan dit ook veroorsaak dat beleggers gulsig raak wanneer die mark skielik opvlam. So ‘n opswaai laat baie mense blindelings agter die “trop” aanstorm en dinge doen sonder om al die faktore te deurdink.
Sommige beleggers is geneig om skielik risiko’s te vermy deur ‘n draai te loop om iets wat heel aanvaarbaar was toe hulle langtermynbeplanning gedoen het. Ander aanvaar, weens gulsigheid, risiko’s wat nie met hul langtermynstrategie strook nie.
Die oorsprong van die gesegde wat lui dat die markte deur gulsigheid en vrees gedryf word, kan duidelik in sommige mense se beleggingsfilosofie gesien word. Resultate van die wêreldbekende Dalbar-navorsing wys ewe duidelik hoe die afbrekende kragte van emosionele besluite beleggers benadeel.
Gedurende die 20 jaar tot en met 2009 het die algemene markindeks meer gegroei as die beleggings van beleggers wat die markte probeer bestuur het waar die element van emosie betrokke was. Die verskynsel waar beleggers die markte probeer time het omtrent altyd ‘n negatiewe impak op groei, want foutlose tydsberekening op dié gebied is byna onmoontlik.
Die enigste genade is om seker te maak jy het ‘n gediversifiseerde beleggingsportefeulje en dat die keuse van bateklasse jou doelwitte weerspieël.
Een manier om emosionele besluite te vermy, is om ‘n gesoute beleggingsadviseur te raadpleeg. So ‘n kundige behoort die kliënt te help om logies en rasioneel oor ‘n strategie te besin.
‘n Mens kan ook met ander basiese stappe emosionele besluite vermy. Verstaan en hou by jou beleggingsdoelwitte, wees realisties oor die groei wat jy verwag en beplan jou beleggingstydperke sodat dit met jou lewenspatroon ooreenstem.
My raad is om ‘n duidelike beleggingsfilosofie te aanvaar. Dus om korttermynspekulasie te vermy en jou op langtermyndoelwitte toe te spits.