In die Suid-Afrikaanse reg is daar ’n reël wat veronderstel dat dit die ouer se bedoeling was dat die kinders eweredig moet erf.
Hierdie beginsel word collatio – “inbringing” in Afrikaans – genoem.
Dit verplig alle afstammelinge van die oorledene, hetsy hulle testamentêr of intestaat sou erf, om sekere goed wat hulle gedurende die erflater se leeftyd van laasgenoemde ontvang het, in die boedel in te bring alvorens hulle kan erf.
Die regsreël bepaal dat bates wat as deel van ’n kind se erfenis gegee is asook goedere wat laasgenoemde gehelp het om hom of haar in die sakewêreld te vestig of vir ’n beroep op te lei, soos studiekoste, ingebring moet word.
Geld wat aan ’n erfgenaam geleen of voorgeskiet is, moet ook ingebring word.
Bates wat aangewend word vir ’n kind se alledaagse onderhoud en opvoeding, word spesifiek uitgesluit. Eenvoudige skenkings in verhouding tot die erflater se vermoëns, is ook nie van toepassing nie.
Die beginsel is dus dat enigiets wat aan ’n afstammeling gegee was wat daardie persoon teenoor ’n ander bevoordeel het, vir inbringing kwalifiseer.
Hierdie reël is ook net van toepassing op erfgename wat hul erfenis geadieer (aanvaar sonder aanspreeklikheid vir laste) het, en nie op ’n erfgenaam wat die erfenis weier nie.
Enige bedrag wat sodanig ingebring word, vorm nie deel van die boedel se bates nie. Dit word slegs in die distribusierekening ingebring en verhoog dus nie die waarde van die boedel nie.
Slegs die waarde van die bate, soos op die datum van oordrag, word ingebring. Dit word dan gelykop tussen die erfgename verdeel.
Dit beteken dat indien byvoorbeeld ’n plaas aan die seun gegee is, slegs die waarde daarvan op die tydstip toe dit gegee is, ingebring word.
Dit is belangrik om daarop te let dat dit die erflater se keuse is om inbringing te laat geld al dan nie.
As laasgenoemde nie wil hê enige bates wat gedurende sy of haar leeftyd aan die kinders gegee is moet ingebring word nie, moet dit uitdruklik in die testament uitgesluit word. Indien nie, sal inbringing outomaties van toepassing wees.
Hierdie reël kan konflik tussen erfgename veroorsaak en in ’n administratiewe nagmerrie ontaard. Daarom sluit die meeste testamente vandag inbringing pertinent uit.
Aangesien dit so ’n onbekende regsreël is, is daar ook debat oor die eksekuteur se verantwoordlikheid om dit aan erfgename te verduidelik waar dit nie uitgesluit is nie.