Versekerdes word daagliks onverhoeds betrap wanneer hulle ’n eis instel en dan terugvoer ontvang dat hulle kwansuis “onderverseker” is.
Al gehoor dat iemand sê hul premies is altyd op datum maar dat die versekeraar nie will betaal wanneer die noodlot tref nie? In die meeste gevalle loop die tussenganger, soos byvoorbeeld PWM, ook deur.
DIT IS EGTER UITERS BELANGRIK DAT MENSE VERSTAAN DAT HULLE SELF VIR DIE KORREKTHEID VAN DIE VERSEKERDE BEDRAG VERANTWOORDELIK IS – NIE HUL TUSSENGANGER ÓF VERSEKERAAR NIE.
Onderversekering is wanneer die bedrag wat uitbetaal sal word in die geval van skade of verlies minder is as die koste om daardie goedere/infrastruktuur te vervang.
Hoewel die uitbetaling sal help om ’n gedeelte van die vervangingskostes te verhaal, sal die versekerde die res moet opdok.
Die beginsel wat toegepas word is avery. Dit behels dat, waar items onderverseker is, die versekerde ’n proporsionele gedeelte van daardie verlies op homself moet neem en dus tegnies gesproke self die versekeraar vir ‘n gedeelte van die “verlies” word.
Avery word juis toegepas om onderversekering te voorkom en seker te maak die versekerde betaal die volle premie vir die risiko wat die versekeraar dra. Dit verseker dat elke party ’n regverdige gedeelte van die eis dra.
Dit is ook belangrik dat ons die term “vervangingswaarde” verstaan. Dit is wat dit sal kos om ten tyde van die indiening van ’n eis die beskadigde goedere/infrastruktuur met soortgelykes te vervang.
Indien jy dus premies betaal het vir ’n bedrag laer as die vervangingswaarde sal jy vir ’n gedeelte van die eis verantwoordelik wees.
Om onderversekering te voorkom, is dit belangrik om in ag te neem dat die vervangingswaarde van items met tyd verander. Dit is ook verstandig om groot risiko-items deur ’n deskundige te laat waardeer.
Verder stel ek voor dat jy ’n inventaris met vervangingswaardes aanhou en om jou polis jaarliks daarvolgens te laat hersien.
Vir diegene wat nog nie met avery te doen gehad het nie, gee ek die voorbeeld waar jy toerusting met ’n vervangingswaarde van R20 000 vir R10 000 verseker.
Indien dit beskadig word en R5 000 kos om te herstel, sal die uitbetaling as volg bereken word: [R10 000 ÷ R20 000] x R5 000 = R2 500. Dit is nie ’n ingewikkelde berekening nie.
Hou hierdie sommetjie in gedagte indien jy iemand is wat nalaat om die versekerde bedrae jaarliks aan te pas.