Al ooit die vraag gehoor of korttermynversekering werklik nodig is? Ek het. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

Baie mense wat hier instap, peper my daarmee. En hul motivering is telkemale die feit dat hulle kwansuis nooit eis nie.

My antwoord aan hulle? Beslis!

Die probleem kom altyd in wanneer iets wel skeefloop en jy nie op daardie oomblik die nodige kapitaal het om die spesifieke bate te herstel of te vervang nie.

Versekering gee jou gemoedsrus vir wanneer die ondenkbare gebeur en stel jou in staat om so normaal moontlik voort te gaan.

Ons verwys na die term “skadeloosstelling” en dit beteken om die versekerde in dieselfde posisie te plaas as wat hy voor die eis was. Dit is altyd eerste prys.

Kan mens selfverseker? Dit behels dat jy elke maand geld vir noodgevalle wegsit en verkieslik in ’n aparte rekening.

Indien dit oorweeg word, is daar belangrike aspekte en uitdagings wat in gedagte gehou moet word.

Wat sal byvoorbeeld gebeur indien jy binne die eerste maand van selfversekering jou voertuig afskryf? Behalwe vir die feit dat jy dit nie sal kan vervang nie, moet die terugbetaling van krediteure ook in ag geneem word.

Die rente wat op jou “noodfonds” verdien word is natuurlik belasbaar en rentekoerse is van so aard dat dit nie met inflasie tred hou nie.

Aanspreekliheid moet ook oorweeg word. Daar kan moontlik nog ’n plan gemaak word met ’n bate, maar indien ’n derde party jou vir skade berokken aanspreeklik hou, kan dit jou finansieël ruïneer.

Die vraag moet dalk nie “versekering of nie” wees nie, maar eerder “korrek verseker of nie”.

In vandag se tye is mense uiters premiesensitief en daarom moet jou finansiële adviseur behoefte-ontledings doen om te bepaal wat jy werklik nodig het en kan bekostig. Jy wil voorkom dat items op jou polis geplaas word wat die premie onnodig opjaag.