Die verswakking van die rand die afgelope ses maande het baie Suid-Afrikaanse beleggers onrustig gelaat, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Daar word gevra of die rand nog verder kan verswak en wat gaan gebeur indien alles in duie sou stort. Dit is geensins ‘n maklike taak om die wisselkoers te probeer voorspel nie en daarom weet niemand wat die antwoord is nie.
Wat dit moeiliker maak, is dat die wisselkoers nie nét deur Suid-Afrikaanse probleme beïnvloed word nie, maar ook deur internasionale gebeure. In onsekere tye vlug beleggers dikwels na meer stabiele geldeenhede soos die dollar en pond.
‘n Goeie voorbeeld is die huidige verstewiging van die rand wat niks met Suid-Afrika te doen het nie, maar eerder met die verswakking van die dollar.
Beleggers wat net as gevolg van die wisselkoers geld oorsee wil belê, sit die pot heeltemal mis. Wie kan die skielike verswakking van die rand vanaf ±R6 tot ± R12 teenoor die dollar in 2001/2002 vergeet?
Die meeste beleggers het geld teen R12 buiteland toe gevat en toe die rand daarna stelselmatig weer tot ± R7 teenoor die dollar versterk het, moes die ongeduldige en wisselkoersbeleggers baie kapitaal afskryf.
Daar is by my geen twyfel dat dit ‘n hoërisiko-strategie is om al jou beleggingsgeld in een land met een wisselkoers te hou – veral in ‘n ontwikkelende land soos Suid Afrika. Beleggers behoort te diversifiseer deur ‘n buitelandse komponent in hul portefeulje te hê.
Dit is egter nie so eenvoudig nie. ‘n Buitelandse belegging is nie ‘n gewaarborgde wenner nie aangesien daar verskillende bateklasse is wat beteken keuses moet sorgvuldig en verantwoordelik gemaak word.
Wanneer daar oorweeg word om in die buiteland te belê, is die stand van die markte ‘n goeie indikator. Internasionale markte mag dalk meer waarde bied as die huidige Suid-Afrikaanse mark of andersom.
Buitelandse markte kan ook geleenthede bied wat dalk nie op die plaaslike beurs bestaan nie. Ons dink hier veral aan die wye verskeidenheid tegnologie-maatskappye soos Microsoft en Alphabet wat goeie beleggingsgeleenthede bied.
Indien jy beplan om eendag te emigreer kan dit dalk goed wees om so vinnig moontlik beleggings in die buiteland te maak.
‘n Ander baie belangrike aspek is hoe en waar in die buiteland om te belê en hiervoor raai ek aan dat jy ‘n kundige raadpleeg.
Ter opsomming is dit ‘n “ja” vir ‘n buitelandse belegging om jou portefeulje te diversifiseer en ‘n “nee” vir ‘n buitelandse belegging net as gevolg van die wisselkoers. Indien jy wil dobbel en kan bekostig om geld te verloor, kan jy die wisselkoersroete kies.