Eskom het verlede jaar weer ‘n rekordjaar in die opwekking van (beurt)krag daargestel.
Beide onverwagte en beplande onderbrekings – laasgenoemde vir instandhoudingsdoeleindes om die totale ineenstorting van die kragnetwerk te voorkom – het daadwerklik tot die donkerste jaar in menseheugenis bygedra.
Aangesien die impak van beurtkrag en ander kragonderbrekings bly toeneem, het dit versekeraars genoop om die moontlike impak daarvan op polisse te heroorweeg.
Herversekeraars wat aan Suid-Afrikaanse verdrae deelneem, het reeds plaaslike versekeraars ingelig dat hulle nie ondersteuning sal bied vir verliese wat uit kragnetwerk-ineenstorting (Total Grid Failure) voortspruit nie.
Sodanige onderbreking word dus nou as ‘n onversekerbare gevaar beskou en die rede hiervoor is natuurlik om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker.
‘n Kragnetwerk-ineenstorting word omskryf as ‘n onderbreking óf opskorting in die elektrisiteitstoevoer van ‘n hele munisipaliteit, provinsie of die land en op enige wyse, vanaf enige bron of om enige rede.
Dit sluit in wanneer bogenoemde op wesenlik dieselfde tyd ‘n kragonderbreking, kragstuwing of opskorting by die heraansluiting van die toevoer ervaar.
Terwyl versekeraars verskeie dekkingsopsies bied, was hul polisse nooit bedoel om die grootskaalse ineenstorting van die elektrisiteitsnetwerk te dek nie.
Hulle het dus geen ander keuse as om die verliese wat hieruit en uit heraansluitings voortspruit, asook enige gevolglike skade, uit te sluit nie.
Die agteruitgang van die land se netwerk en enige verliese, skade, regsaanspreeklikheid of kostes wat daarmee gepaard gaan is dus deesdae algemene uitsluitings.
Hierdie geld hetsy dit as gevolg van die onvermoë van die diensverskaffer is om elektrisiteit op te wek en te versprei al dan nie.
Dit is ook van toepassing op verliese ten opsigte van die ontwrigting van openbare dienste soos water-, telekommunikasie- en rioolstelsels asook die agteruitgang van voedsel en dergelike produkte wat deur kragnetwerk-ineenstorting geraak word.
Uitsluitings verskil wel van versekeraar tot versekeraar en word op geaffekteerde polisse, met effektiewe datums, aangedui.