Die heersende grendeltydperk raak bykans elke Suid-Afrikaner en daar heers grootskaalse verwarring en onsekerheid onder ons, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Hoe gaan die lewe na Covid-19 wees? Gaan dit ooit weer dieselfde wees? Daar is baie opinies en spekulasie.
Dit is egter nóú belangrik om kalm te bly aangesien emosionele besluite selde rasioneel is.
In die persoonlike finansiële plan van elke huishouding is daar normaalweg elemente van risikodekking, spaar en korttermynversekering en in hierdie tye is dit belangrik om dit reg te bestuur.
Risikodekking word onderverdeel in lewens- en ongeskiktheidsdekking, inkomstebeskerming en medies en is gewoonlik vir ‘n onmiddellike behoefte.
Jy kan enige tyd sterf en sal wil seker maak dat jou gesin finansieel versorg is, veral omdat vroue in baie gevalle tot die huishouding se finansiële sekerheid bydra.
Verder moet daar genoeg kontant wees om jou boedel te beredder. Waar moontlik, wil mens nie bates verkoop om dit af te handel nie.
Tydelike of permanente ongeskiktheid kan ook enige dag toeslaan en daar is baie keer erger finansiële gevolge as met dood. Die vraag is hoe jy jou inkomste gaan beskerm om jou maandelikse uitgawes te bly betaal.
Siekte maak ook nie ‘n afspraak nie en daarom bly jou mediese fonds belangrik. Ernstige en langdurige siekte kan jou finansieel ruïneer.
Die gevolgtrekking is dus dat jy nie aan jou risikodekking moet torring nie.
Wanneer ons van spaar praat, dink ons aan dinge soos aftrede, ons kinders se opvoeding, vakansies en dies meer. In die meeste gevalle spaar ons ‘n maandelikse bedrag hiervoor.
Indien jy fondse benodig om in jou daaglikse behoeftes te voorsien, is my raad dat jy liefs hierdie bedrag verminder of tydelik staak. Dis ook moontlik om in sommige gevalle ‘n premievakansie te neem.
Probeer om nie nou beleggings te likwideer nie. Die markte het die afgelope tyd kwaai deurgeloop en ontydige verkope kan onnodige verliese realiseer.
Hoewel dit verblydend is dat markte onlangs ietwat herstel het, is onsekerheid en wisselvalligheid steeds ons voorland.
Korttermynversekering is iets wat maklik deur kliënte verminder of gekanselleer word. Indien jy genoodsaak voel om hierdie roete te volg, maak seker dit is weldeurdag en dat jy dit in samewerking met jou makelaar doen.
Maar onthou, dit is jou verantwoordelikheid om jou dekking te normaliseer wanneer jou finansiële posisie verbeter.
Risikodekking is juis noodsaaklik in tye van nood en daarom is dit my raad om eerste op ander plekke te probeer bespaar.