Index

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
post

Boedelbereddering het verander: Dit neem tyd

As 'n boedelproses sonder enige haakplekke gevolg word, kan 'n boedel binne nege tot twaalf maande afgehandel word.

Daar is egter deesdae 'nuwe' uitdagings wat hierdie proses onbepaald verleng.

Voorheen was die eksekuteursbrief binne sewe dae deur die Meesterskantoor uitgereik.

Dit kan nou egter maande neem om die brief te kry, omdat die Meesterskantoor nou eers met die Departement van Binnelandse Sake moet bevestig dat die oorledene wel oorlede is.

Bedrog het die afgelope tyd dramaties toegeneem, met sindikate wat saamwerk om vervalste dokumente in te dien en voor te gee dat 'n persoon oorlede is.

Daar was al verskeie gevalle waar aanmeldingsdokumente 'onderskep' is en vervalste eksekuteursbriewe uitgereik is, wat die sindikaat in staat stel om boedelbankrekeninge te open, beleggings op te vra en die hasepad te kies met die geld.

Gevolglik neem dit nou maande om bankbesonderhede by finansiële instellings te kry, omdat hulle eers die legitimiteit van die dokumente moet bevestig voordat hulle daarvolgens kan handel.

Omkeertydperke kan tussen drie tot ses maande wees.

In die verlede het jy die boedel se finale aanslag tot op die sterfdatum gedoen en jou SARS-verpligtinge is afgehandel.

Erfgename moes self die nadoodse inkomste verklaar.

Deesdae moet 'n eksekuteur weer die boedel vir nadoodse inkomste registreer en die opgawes tot met Likwidasie rekening indien en afhandel.

Een van die finale vereistes van die Meesterskantoor, voordat 'n boedel afgehandel en geliasseer kan word, is 'n SARS- klaringsertifikaat.

Dit kan maande neem.

Die meeste Meesterskantore het ook hul eie uitdagings met eposse, internet en hul interne rekenaarsisteme wat partykeer vir maande op ‘n slag nie werk nie.

Geduld, geduld is die wagwoord.