Mense is nie altyd ten volle ingelig oor die belangrike aspekte rondom korttermynversekeringseise nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

Die meeste vind gewoonlik onder die huisinhoud-, motor- en alle risiko-afdelings plaas en ek wil vandag by eersgenoemde stilstaan.

Dis belangrik om seker te maak jou huisinhoud geniet voldoende dekking. Indien ‘n eis sou ontstaan, wil jy nie onderverseker wees nie.

Mense is geneig om op die groot en duur items te fokus en versuim dikwels om die kleiner en goedkoper items in berekening te bring.

By PWM beveel ons aan dat ‘n professionele waardeerder ‘n volledige opgawe doen. Baie van ons kliënte maak van hierdie diens gebruik en, verstommend, vind bykans almal dat hul huisinhoud onderverseker is.

Indien daar nie van ‘n waardeerder gebruik gemaak word nie sal makelaars gewoonlik ‘n inventaris kan voorsien wat sal help. Dit sal jou in staat stel om elke item in jou huis in ag te neem en so ‘n versekeringsbedrag wat voldoende is te help bepaal.

Vergewis jouself ook van die sekuriteitsvereistes wat op jou polisskedule gestipuleer word. Indien dit vereis dat jy diefwering voor oopmaakvensters en veiligheidshekke voor deure moet hê, kan ‘n eis gerepudieer word indien die assessor die teendeel bewys.

Geld en juweliersware bly ‘n turksvy. Daar is gewoonlik spesiale reëlings wat van versekeraar tot versekeraar verskil en jou makelaar sal jou hiermee kan bystaan.

Indien jy as die versekerde geopenbaar het dat jy wel ‘n gekoppelde alarm in jou woning het, kan ‘n eis gerepudieer word indien dit nie aan ‘n sekuriteitsmaatskappy gekoppel of geaktiveer is nie.

Indien ‘n alarm op jou polisskedule as vereiste aangeteken is en jy dit nie aktiveer wanneer jy uitgaan nie, kan die eis ook skipbreuk ly.

Die minimum sekuriteitsvereistes is gewoonlik diefwering voor oopmaakvensters en veiligheidshekke voor deure, maar, indien jy ‘n alarm het, vervang dit gewoonlik sodanige vereistes.

In komplekse vervang elektriese heinings en toegangsbeheerde hekke nie noodwendig diefwering en veiligheidshekke nie. Wagte wat dag en nag by die hek aan diens is, is die enigste sekuriteit wat bogenoemde, of ‘n alarmstelsel, kan vervang.

Let ook op dat die voorwaardes deur die versekeraar aangepas kan word in gebiede wat as ‘n hoër risiko beskou word.

Onthou om ná ‘n inbraak ‘n saak by die polisie oop te maak. Jou makelaar sal die datum, tyd en beskrywing van die voorval, saaknommer, naam van die polisiekantoor, datum waarop dit aangemeld is asook kwotasies van vermiste items benodig.

Indien jy ‘n alarm het, kan die versekeraar ‘n verslag van die sekuriteitsmaatskappy aanvra.

Verder kan versekeraars self besluit hoe om jou vir jou skade te vergoed. Hulle kan byvoorbeeld herstel, vervang, ‘n kontantbetaling maak of enige kombinasie hiervan.

Eise moet so spoedig moontlik registreer word aangesien versekeraars slegs 30 dae grasie bied.