Baie jongmense maak eers met die sakewêreld kennis nadat hulle hul sekondêre of tersiêre opleiding voltooi het en die vraag is of dit nie reeds te laat is nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Met die werkloosheidsyfer wat dit is, is daar ‘n groot kans dat hulle nie dadelik werk sal kry nie en daarom raai ek aan dat ouers hul vroeg reeds aan entrepreneurskap blootstel.

Hoewel dit ingewikkeld mag klink, hoef dit nie so te wees nie. Ek vergelyk dit gewoonlik met fietsry.

Aan die begin is dit vreemd en jy mag dalk ‘n paar keer afval, maar sodra jy die basiese beginsels onder die knie het, vergeet jy dit nie weer nie. En, bygesê, kinders leer veel makliker as ons.

Nét so kan eenvoudige sakebeginsels van vroeg af aangeleer word.

Bring die konsep van geld van jongs af by jou kinders tuis – waar dit vandaan kom en waarom dit nodig is. Verduidelik dat ‘n mens dit verdien in ruil vir werk en dat dit jou in staat stel om jou lewenstyl te finansier.

Leer vir hulle die beginsel van spaarsamigheid. Forseer hulle om elke keer voor hulle iets koop te vra of hulle dit werklik nodig het.

Probeer so vinnig moontlik op ‘n punt kom waar hulle ‘n toelaag kry om basiese benodigdhede te koop. Dit leer hulle begroot en kweek beginsels soos beplanning en ‘n verantwoordelikheidsin.

Die belangrike les is dat kinders nie meer uitgee as wat hulle inkry nie. Verduidelik wat skuld is, dat dit ‘n koste dra en dat dit een van die grootste sondebokke op die pad na finansiële moeilikheid is.

Motiveer jou kind om iets te maak en dit teen ‘n hoër prys te verkoop as wat dit gekos het. En dan om uit die wins van die “besigheid” uit te spaar.

Nog ‘n voorbeeld is die aandelemark. Begin met denkbeeldige geld en laat die kind aandele kies, “koop” en dophou. Stel doelwitte en speel saam.

Jy sal verbaas wees oor die resultate – kinders se sakesin ontwikkel gouer as wat jy dink. Dis egter belangrik dat hulle moet leer dat die suksesvolste sakemense diegene is wat een keer meer opstaan as wat hulle platgeslaan is.