Die onus lê by huiseienaars om te bewys dat die inhoud van hul huise ten volle verseker is en daarom moet die waarde van ‘n inventaris nie onderskat word nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

As jou huis afbrand en die huisinhoud is vir byvoorbeeld R800 000 verseker, moet jy aan die versekeraar kan bewys dat die waarde daarvan wel soveel was.

In vandag se gejaagde lewe is dit net nog ‘n ding wat nie die aandag kry wat dit verdien nie. Vra jouself gerus af of jy ‘n lys van al jou besittings sou kon maak indien jou woonplek in ‘n brand verwoes word.

Mens moet onthou dat dit nie net die groot goedere soos meubels en elektroniese toebehore insluit nie, maar die magdom los artikels wat rondstaan en in kaste is.

Dit is dan ook gewoonlik die geval dat die items wat jy nie aldag sien en aan dink nie, gewoonlik die duurste is.

Die rol wat klere en skoene in die bepaling van die algehele waarde van ‘n huis se inhoud speel, word ook dikwels onderskat. Dit kan tot foutiewe berekeninge lei, wat beteken iemand kan as onderverseker beskou word wanneer ‘n eis ingestel word.

Met ‘n volledige en onlangs bygewerkte inventaris kan eise vinniger afgehandel en die bedrag van jou verliese vir jou belastingopgawe bevestig word.

Dit help jou ook om jou huisinhoud vir die korrekte bedrag te verseker. Op dié manier kan jy seker maak probleme soos onderversekering en awery duik nie op wanneer ‘n eis ingedien word nie.

Mens moet eenvoudig net tyd inruim om ‘n inventaris op te stel. Begin deur ‘n volledige lys van jou besittings te maak en onthou ook dis belangrik om alle kwitansies, fakture en kontrakte wat betrekking het op hierdie artikels te hou.

In sommige gevalle sal dit nodig wees om ramings te maak, maar al dié moeite kan jou vorentoe baie tyd, verdriet en geld spaar.

Dis belangrik om die inventaris gereeld te hersien omdat die waarde van sekere artikels toeneem.

Nog ‘n goeie gewoonte is om ‘n foto van elke waardevolle artikel te neem. Maak afdrukke van die foto’s en skryf op die agterkant wat dit is, waar dit gekoop is en die fabrikaat.

Indien jy nie kans sien om jou eie saam te stel nie, kan jy jou makelaar vra om te reël vir ‘n professionele waardasie. Dit is bekostigbaar en sal vir jou gemoedsrus gee.

Bêre die inventaris met stawende dokumente op ‘n veilige plek, en verkieslk nie in jou eie huis nie.