Dit is ’n nuwe jaar en dalk tyd vir ’n nuwe perspektief op jou finansiële doen en late – veral met die inperking wat baie van ons tot op die afgrond gedryf het.

Ek gaan die bal aan die rol sit en in die volgende drie rubrieke verduidelik hoekom finansiële beplanning noodsaaklik is. Asook hoekom dit deurentyd gedoen moet word.

Al ooit gehoor dat iemand sê hul finansiële beplanner het ’n afspraak gemaak om weer ’n polis aan hom of haar te verkoop?

In die praktyk werk dinge egter heelwat anders – dit kan ek jou belowe. Selfs al is dit vir hul eie beswil, sukkel ons as finansiële beplanners eintlik om vergaderings met van ons kliënte opgestel te kry.

Dit is ons taak om seker te maak hul onderskeie planne is nog op koers, maar dit is nie iets wat deur net een van die partye hanteer kan word nie.

Kliënte – asook diegene wat nog nie by ’n finansiële beplanner aangeklop het nie – behoort eintlik ons drempels deur te trap om seker te maak dat hul finansiële sake soveel moontlik aandag geniet.

Indien ’n persoon siek is, is die logiese gevolgtrekking dat hy dokter toe sal gaan. In my opinie, behoort dieselfde te geld wanneer iemand finansieel “siek” is.

Hoeveel mense ken jy nie wat finansieël ietwat olik is en nog nooit by ’n finansiële beplanner uitgekom het nie? Is jy dalk een van hulle?

Nie net is dit jou verantwoordelikheid om jou geldsake ’n prioriteit te maak nie, jy moet ook seker maak dat jy by ’n goeie en ervare finansiële “dokter” uitkom.

Hoe graag ons ookal sou wou, kan ons ongelukkig nie vir jou geld pasella gee nie. Ons kan jou wel help om jou bates sinvol uit te sorteer – en dit beteken gewoonlik meer geld in jou sak.

In al my jare in hierdie bedryf kan ek getuig dat ek nog nie die persoon ontmoet het wat sonder ’n kundige se raad kan klaarkom nie.

Nou wat moet ’n finansiële beplanner dan nou eintlik doen, hoor ek jou vra. Die kort antwoord is dat hy moet sorg dat jou boedel- en aftreebeplanning in goeie en slegte tye klokdisselboom loop.

Ons praat aanstaande maand verder hieroor.