As jy nie ‘n nuwejaarsvoorneme het nie, wil ek voorstel jy maak joune ‘n deeglike finansiële plan, skryf Pieter Willem, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
So ‘n plan moet uit risiko- en spaarelemente bestaan en hieronder sal ek oor eersgenoemde uitbrei. Aanstaande maand praat ons oor die spaaraspek.
Die risiko-gedeelte bestaan basies uit drie fasette: voorsiening vir jou afhanklikes, persoonlike ongeskiktheid en medies.
Voorsiening vir jou afhanklikes bly kardinaal belangrik indien jy seker wil maak joune is finansieel onafhanklik by ontydige dood.
Indien daar nie genoeg bates is nie, moet die roete van lewensversekering gevolg word. Die vraag is net hoeveel.
Dít hang natuurlik van verskeie faktore af, waaronder: die behoeftes van jou afhanklikes en die hoeveelheid kontant wat nodig is om die boedel sinvol (insluitende boedel- en kapitaalwins, eksekuteursfooie, aflos van skuldeise, ensovoorts) te beredder.
Lewensversekering kan selfs nodig wees as jy geen afhanklikes het nie en wil verhoed dat bates verkoop word om skuld te delg en/of kontant te genereer.
Permanente en tydelike ongeskiktheid kan ook katastrofiese finansiële implikasies hê en die utopia hier is ‘n enkelbedrag permanente ongeskiktheidsdekking in kombinasie met ‘n inkomstebeskermer. Die vraag oor “hoeveel” sal van individu tot individu verskil na gelang van hul behoeftes.
Ten laaste moet jy seker maak dat jy voldoende mediese dekking geniet. Dis doodeenvoudig nalatig om nie te hê nie.
Indien bekostigbaarheid ‘n probleem is, stel ek voor om eerder op ander plekke te probeer spaar. Werknemervoordele moet natuurlik in ag geneem word wanneer jy op die hoeveelheid versekering besluit.
Onthou, die behoefte aan risikodekking is ‘n onmiddellike behoefte. Jy kan vandag sterf, permanent of tydelik ongeskik raak of siek word.
Maak seker jou plan is reg.