Makelaars ontvang gereeld navrae oor die terugbetaling van “bybetalings” of “eerste bedrae betaalbaar” in verband met versekeringspolisse. Skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.
Hierdie ontstaan meesal ten opsigte van ongelukseise waar die versekerde oortuig is dat die ongeluk die fout van die ander party was en nie verstaan waarom die bybetaling nie aan hom terugbetaal kan word nie.
Afgesien daarvan dat hierdie ’n natuurlike uitkyk is, demonstreer dit ’n tipiese misverstand van wat presies ’n “bybetaling” behels. Dit beteken dat die versekerde instem om ’n sekere gedeelte van sy verlies self te dra.
Die Ombudsman vir Korttermynversekering verduidelik daar is verskeie tipes bybetalings afhangende van die omstandighede van die eis – soos die aard van die verlies en ouderdom van die versekerde. Maar, in prinsiep, het bybetalings almal dieselfde kenmerk: dis asof die versekerde nie daarvoor verseker is nie.
Sou die versekerde skade lei deur iemand anders se nalatigheid, het hy dus die reg om sodanige persoon te dagvaar vir die skade. Waarop die versekerde egter nie geregtig is nie, is om die versekeraar te dwing om daardie skade te probeer terugeis.
Die waarheid is egter dat, in die meeste gevalle, die versekeraar sy eie kapitaaluitleg (die bedrag aan sy eie versekerde uitbetaal) sal wil terugeis.
Die prosedure wat volg is gegrond op ’n leerstelling wat bekend staan as subrogasie. Dit is die versekeraar se reg om verrigtinge in te stel in die naam van die versekerde teen enige nalatige derde party om te poog om die uitleg te herstel.
Omdat die versekeraar die derde party namens die versekerde dagvaar, kan die bybetaling waarvoor die versekerde verantwoordelik was by sodanige eis getel word. Sou die versekeraar daarin slaag om die uitleg terug te eis, sal die bybetaling aan die versekerde terugbetaal word.
Dit is gewoonlik tot voordeel van die versekerde om gemagtig te wees om op die versekeraar “se rug” te kan ry ten opsigte van die instelling van regsaksie teen die derde party juis omdat hy nie die risiko vir enige regsonkoste dra nie.
In ruil hiervoor sal die versekeraar waarskynlik daarop aandring dat die versekerde verstaan dat die versekeraar deurlopend die reg voorbehou om verrigtinge teen die derde party te staak. Die vesekeraar is ook by magte om die eis te vereffen soos wat hy goeddink.
Dit is belangrik om te onthou dat die versekerde slegs sy bybetaling sal terugkry indien die versekeraar daarin kon slaag om nie net sy eie kapitaaluitleg terug te eis nie, maar alle onkostes insluitende die bybetaling. In praktyk gebeur dit selde.
Die versekeraar tree nie oneties op deur nie ’n bybetaling namens die versekerde vanaf die derde party te probeer terugeis nie. Sou die versekeraar dus besluit om nie regstappe teen die derde party in te stel nie, is daar niks wat die versekerde verhoed om dit te doen nie.