Geen persoon, insluitende sake-eienaars, is gevrywaar van siekte nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

Dit kom net so onverwags soos wat die Iere se Wêreldbeker-nederlaag teen Japan was en daarom glo ek voldoende inkomstebeskerming is nóg meer noodsaaklik as enkelbedrag-ongeskiktheid.

Ek sal op ‘n sinvolle dog eenvoudige manier verduidelik hoekom dit so belangrik is.

Sake-eienaars geniet gewoonlik nie dieselfde beskerming as werkers in die formele sektor nie. Siekteverlof, veral vir langer tydperke, is ‘n luukse wat hulle nie beskore is nie.

‘n Verlies van werksure lei na ‘n verlies in inkomste, wat nooit vervang kan word nie.

Sake-eienaars wat siek raak het, volgens ‘n onlangse Sanlam-artikel, die volgende potensiële uitdagings.

Die eienaar trek ‘n inkomste terwyl hy of sy nie ‘n bydrae kan lewer nie en plaas so die kontantvloei van die onderneming onder druk.

Of die eienaar leen geld uit ‘n huisverband of doen aansoek om ‘n persoonlike lening, wat ‘n negatiewe invloed op persoonlike maandelikse kontantvloei het.

Weens die druk op kontantvloei om die bostaande lenings terug te betaal, kan die gesin se leefstyl beïnvloed word.

Sake-eienaars mag dalk dink dat hulle deur hul mediese fonds gedek word, maar sodanige fondse bied nie inkomstebeskerming nie.

Persoonlike reserwes kan verder uitgeput word as gevolg van uitgawes (soos medikasie en uitgawes buite die hospitaal, rehabilitasiekoste en buitensporige dokterstariewe) wat nie deur die mediese fonds gedek word nie.

Die eienaar loop ook die gevaar om alles te verloor, veral indien hy of sy permanent buite aksie is.

‘n Omvattende inkomstebeskermingsoplossing is die geskikste om die sake-eienaar se verdienvermoë te beskerm.

Die oplossing is saamgestel om gedurende hierdie tyd ‘n belastingvrye maandelikse inkomste te betaal. Dit bied ook die opsie om sy of haar verdienvermoë in die geval van permanente ongeskiktheid te beskerm.

Inkomstebeskerming behoort ‘n hoeksteen van elke sake-eienaar se finansiële plan te wees. Dit is ‘n belangrike sakebeginsel wat ten alle koste geïmplementeer moet word.