Trusts is ’n wonderlike boedelbeplanningsmeganisme indien dit korrek aangewend word.

Een geval waar die gebruik van ’n trust asook trust-administrasie onder die loep kom, is by egskeiding.

’n Leser, wat in die middel van een is, wou van my weet of die bates wat na ’n trust oorgedra is, “veilig” is. Die antwoord is ja, maar net indien al die wetlike vereistes nagekom word.

’n Trust is ’n aparte regsentiteit en ’n wettige ooreenkoms vervat in ’n kontrak wat bekend staan ​​as die trustakte.

In terme hiervan dra een party, die stigter, eiendom oor aan die trustees, wat dan verantwoordelik is vir die administrasie en bestuur van die trusteiendom tot voordeel van die begunstigdes en volgens die doel vermeld in die trustakte.

Verkieslik moet daar twee of meer trustees aangestel word, waarvan ten minste een onafhanklik moet wees. As jy die enigste trustee van “jou” trust is, kan dit gesien word as ’n alter ego-trust en die bates sal as jou eie geag word.

’n Onafhanklike trustee is iemand wat nie ’n begunstigde is nie en verkieslik ook nie ’n familielid nie. Dié persoon moet oor die nodige kundigheid beskik om sy/haar pligte behoorlik te vervul sowel as om waarde tot die trust toe te voeg.

Begunstigdes is diegene wat uit die inkomste en/of kapitaal van die trust voordeel trek. In ’n diskresionêre trust kan die begunstigdes slegs bevoordeel word nadat die trustees hul diskresie uitgeoefen het.

Dit is nie net belangrik om ’n trust korrek te struktureer nie; dit is ook noodsaaklik dat transaksies behoorlik gedokumenteer en gemagtig word.

Die trustees moet gereeld ontmoet om trustsake te bespreek. Sulke vergaderings moet genotuleer word en die besluite moet as resolusies reflekteer tesame met wie teenwoordig was.

Voor ’n trust byvoorbeeld bates kan koop of verkoop moet daar ’n resolusie opgetrek word.

Wat te dikwels gebeur is die volgende: ’n trust word gestig deur, sê, Willem Smit en ander trustees word saam met hom aangestel, maar hy bedryf die bates steeds asof dit syne is terwyl hy die ander net somtyds inlig.

Trustees soos Willem loop op dun ys aangesien dit moeilik sal wees om ’n buitestaander te oortuig dat die trust ’n aparte regsentiteit is. Indien hulle geld na of uit die trust se bankrekening oordra, behoort daar ’n resolusie te wees wat hulle magtig om dit te doen.

Verder moet die oordrag van bates van Willem se boedel na die trust ook behoorlik gestruktureer en gedokumenteer word in terme van resolusies en  lenings- en huurooreenkomste.

’n Trust is net ’n veilige hawe indien dit korrek aangewend word.

Tags: