Index

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
post

Maak seker van jou polisvoorwaardes

Na ‘n onlangse geval waar ‘n versekerde se eis gerepudieer was omdat dit nie binne die bepaalde tyd aangemeld is nie, het ek net weer besef hoe belangrik dit is om die algemene voorwaardes van die poliskontrak te lees.  Dit is gewoonlik nie meer as twee bladsye nie, en verduidelik in eenvoudige terme hoe jou polis werk. Wat moet en wat nie gedoen moet word nie. Ek noem ’n paar belangrike aspekte:

Premies is altyd vooruitbetaalbaar.  Indien ‘n premie onbetaald is, is daar tegnies geen dekking nie.  In die praktyk is versekeraars dikwels buigbaar en verleen steeds dekking vir daardie termyn waarvoor geen premie ontvang is nie. Sou die premie vir twee agtereenvolgende termyne onbetaald wees, sal die polis outomaties gekanselleer word.  Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat versekeraars agterstallige premies sal aanvaar indien ’n eis in daardie tyd ingedien was.

Alle redelike stappe moet te alle tye deur die versekerde geneem word ten einde die versekerde eiendom te beveilig en in stand te hou, asook om verlies of skade te voorkom of te beperk sover moontlik.  Om dus vinnig by die kafee in te hardloop terwyl jou voertuig met die sleutels in staan en luier, sal beskou word as nalatigheid en indien die voertuig in so ‘n geval wegraak, kan die eis in alle waarskynlikheid afgewys word.

Die polis of enige deel daarvan mag op enige stadium onmiddellik deur die versekerde gekanselleer word. Indien die versekeraar sou besluit om van sy kant af die poliskontrak te kanselleer, moet dit ook by wyse van 30 dae skriftelike kennis wees.

‘n Poliskontrak verleen slegs regte aan die poliseienaar self en niemand anders nie.  Enige uitbreiding van die versekeraar se aanspreeklikheid teenoor ‘n ander persoon verleen geen regte aan so ‘n persoon om teen die versekeraar te eis nie.  Die versekerde moet namens die persoon eis waarna die versekeraar die saak verder sal hanteer. Geen versekerde mag sy regte sedeer nie.

By die plaasvind van ‘n gebeurtenis wat kan lei tot ‘n eis, moet die makelaar of versekeraar so spoedig moontlik daarvan in kennis gestel word, asook van enige ander polis wat dieselfde gebeurtenis dek.  Die kennisgewing tydperk is gewoonlik 30 dae.  Volle besonderhede van die gebeurtenis tesame met duidelike afskrifte van dokumente word gewoonlik verlang.  Enige gebeurtenis waarby diefstal of ander misdaad of verlies betrokke is, moet onmiddellik by die polisie aangemeld word.

Dit is van kardinale belang om te onthou dat alle regte op skadeloosstelling onder die polis verbeur word indien ‘n eis in enige opsig bedrieglik is of bedrieglike middele deur die versekerde of namens die versekerde gebruik is om ‘n voordeel onder die polis te verkry. Dieselfde geld wanneer ‘n eis ontstaan het nadat die versekerde opsetlik was om skade te veroorsaak of skade wat oogluikend deur die versekeraar toegelaat is. Alle inligting ten opsigte van eise moet altyd op die waarheid gebasseer wees.

Dit is in jou eie belang om die algemene voorwaardes waarvan ek hierin ‘n paar bespreek het, te lees, en te verstaan.