Ons weet ons het ’n finansiële adviseur nodig wanneer dit by die bestuur van ons geldprodukte kom – die vraag is net hoe om die regte een te kies.
Dit is ongetwyfeld een van die belangrikste besluite wat jy moet neem. Die regte keuse kan jou help om jou risiko’s te beperk en jou finansiële doelwitte te bereik.
So wat is belangrik?
Begin deur seker te maak die persoon beskik oor die nodige kwalifikasies en ondervinding.
Elke veld in die finansiële wêreld het bepaalde opleidingsvereistes en in hierdie geval is ’n CFP-kwalifikasie in finansiële beplanning asook ’n diploma in korttermynversekering belangrik.
Ek wil egter beklemtoon dat kwalifikasies nie die enigste norm moet wees nie. In my 30 jaar in die bedryf het ek vele male gesien dat sommige hoogs gekwalifiseerde adviseurs, net soos in ander bedrywe, nie in die praktyk ’n sukses kan maak nie.
Doen besigheid met ’n persoon wat die ondersteuning van ’n finansiële dienste maatskappy geniet. Daar is twee redes.
Indien iets met jou agent sou gebeur, is daar minstens nog iemand om jou te help. Dit is dus belangrik om seker te maak dat daar ’n opvolgstrategie is.
Probeer altyd om ’n langtermynverhouding met jou adviseur te bou. Dit is wel nie altyd so maklik nie omdat die bedryf soos enige ander ook sy probleemkinders het.
Daar was byvoorbeeld al baie skemas wat kliënte miljoene rande gekos het. Ondersoek jou adviseur se werksgeskiedenis sodat daar wedersydse vertroue kan wees.
Het jou adviseur voldoende dekking vir professionele aanspreeklikheid? Dit sal verseker dat ’n eis ingestel kan word indien jy finansiële skade as gevolg van die persoon se nalatigheid gelei het.
Moenie dat die noodlot jou tref nie!
Wees bedag daarop as jou adviseur produkte voorstel wat baie beter as die mark presteer. Die geskiedenis wys vir ons dat dit hoogs onwaarskynlik is en nie die risiko werd is nie.
Daar is ander faktore wat ook ’n rol in die aanstelling van ’n adviseur speel, maar as jy dié wat ek hier genoem het in ag neem, het jy waarskynlik reeds ’n goeie belegging gemaak.
Moenie dat ’n adviseur se aandeel joune benadeel nie.