Beleggers soek altyd die grootste opbrengs wat aan die kleinste risiko gekoppel is, maar hoeveel risiko kan ‘n mens bekostig, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

‘n Pensioentrekker wat my onlangs kom sien het, bied vir ons ‘n goeie gevallestudie. Sy het in ‘n eiendomsindikasie-maatskappy belê en ontvang nie meer die beloofde rente nie.

Vir haar het ek slegte nuus gehad. Behalwe vir die verlies aan rente, staan sy ook ‘n goeie kans om ‘n deel van haar kapitaal, indien nie alles nie, te verloor.

Sy was destyds gretig om te belê omdat hoë rente aangebied was, maar dit is duidelik dat sy nie die belegging en meegaande risiko behoorlik verstaan het nie.

Ek sal glad nie rustig slaap as ek my geld in ‘n soortgelyke maatskappy belê het nie, want in die algemeen is die beloofde inkomste en likiditeit van kapitaal net nie daar nie.

Twee bateklasse waarop ek eerder vandag wil fokus, is aandele en eiendom.

Aandele is ‘n bateklas wat oor die langtermyn ‘n goeie kapitaalopbrengs en selfs handige dividende kan verseker.

Dis egter riskant en moet met groot omsigtigheid en met die hulp van kundiges hanteer word. Die beleggingstermyn moet verkieslik vyf jaar of langer wees.

Mens hoor daagliks van beleggers wat geld verloor het deur aandele in ongenoteerde maatskappye te koop. Die bemarkingsaksie van sulke maatskappye berus baie keer op ‘n toekomstige notering wat dan nooit plaasvind nie.

Daarom is my raad om te fokus op dié wat reeds op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is.

Jou eie besigheid is wel ‘n uitsondering en in baie gevalle lewer sulke beleggings ‘n hoë opbrengs. Moenie bang wees om in jouself te belê nie – jy is jou eie sekuriteit.

‘n Belegging in eiendom kom gewoonlik ten minste een keer oor elkeen van ons se pad en, met die eiendomsmark wat tans pap is, is daar goeie geleenthede.

Maar, omdat dit nie met die druk van ‘n knoppie verkoop kan word nie, is likiditeit ‘n belangrike aspek om in aanmerking te neem. Indien ons dus van beleggingseiendomme praat, moet ons dalk eerder kyk na eiendomstrusts wat op die aandelebeurs genoteer is.

Die opbrengs mag ‘n bietjie minder as dié op jou persoonlike eiendom wees, maar die risiko is kleiner omdat dit gewoonlik gediversifiseerd (residensieel, kommersieel en industrieel) is. Die voordele is dat dit maklik verkoop kan word en dat huurders en onderhoud nie faktore is nie.

Vir jongmense is dit voordelig om beleggingseiendom te koop, maar kapitaal is gewoonlik skaars. Slegs ‘n deposito is egter nodig met die res van die koopbedrag wat dan geleen word.

Die feit dat jy kan leen, beteken dat jy vreemde kapitaal gebruik. In Engels noem hulle dit gearing. My raad is om so vinnig moontlik eiendom op dié wyse te bekom en begin klein as jy moet.

Vergeet van beleggingskemas, wees versigtig wanneer hoë opbrengste belowe word en belê net by instansies wat jy vertrou.