Deeglike finansiële beplanning, wat boedelbeplanning insluit, is nie ‘n eenmalige oefening in jou leeftyd nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Veranderende wetgewing noodsaak individue en ondernemings om hul planne en strukture deurgaans aan te pas om te verseker hulle sit nie eendag in ‘n katastrofiese finansiële situasie nie.
Vandag bespreek ek die invloed van drie onlangse belastingwysigings.
Dit is nie meer ‘n geheim dat inter vivos-trusts as boedelbeplanningsmeganisme in die soeklig is nie. Inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting en dividendbelasting vir trusts het die afgelope jare drasties verander.
‘n Nuwe artikel in die wet, wat gaan oor die belasbaarheid van rentevrye lenings, krap sake verder om. Hierdie wysigings noodsaak verdere beplanning en lei tot sekere vrae.
Die eerste is of trustbates nie dalk na ‘n privaat-maatskappy, waarin die trust 100 persent belang het, oorgedra moet word nie. Met so ‘n oordrag word die voordeel van trusts as boedelbeplanningsmeganisme behou aangesien die maatskappy meer buigbaar is en ander voordele het.
Die kapitaalwinsbelasting in trusts is byvoorbeeld ‘n effektiewe 36 persent teenoor die 22.6 persent van privaat-maatskappye. Verder is die terughoudingskoers vir dividendbelasting in trusts 20 persent, terwyl geen dividendbelasting in maatskappye gehef word tot tyd en wyl dividende uitgekeer word nie.
‘n Verdere vraag is of rentevrye lenings nie anders hanteer moet word nie. Hier is ook verskeie opsies wat grootliks van die bedrag van die lenings afhang.
Lenings van rondom R1-miljoen in trusts behoort nie probleme te veroorsaak nie as gevolg van die jaarlikse skenkingstoelaag van R100 000. In sekere gevalle sal dit egter meer voordelig wees om ‘n lening as ‘n skenking te hanteer en 20 persent skenkingsbelasting te betaal.
Boedelbelasting het die afgelope jaar 20 persent gebly en die korting, volgens die wet, is R3.5-miljoen. In ‘n man en vrou se geval kan dit oorgedra word, so maak seker hierdie korting word optimaal benut.
‘n Ander belastingwysiging wat veral boere raak, het onlangs die lig gesien. By dood word lewendehawe en ander boerderybates nou anders hanteer.
Die volle markwaarde daarvan word nou as inkomste vir inkomstebelasting geag en nie meer soos in die verlede as kapitaalwins hanteer nie.
Dit noodsaak boere om hul sakestrukture te heroorweeg en ‘n oordrag van bates na ‘n maatskappy kan weereens hier ‘n moontlike opsie wees.
My boodskap vandag is om deurgaans na jou finansiële beplanning te kyk en tred te hou met veranderende omstandighede en wetgewing.
Daar is geen bloudruk nie. Elkeen se situasie en behoeftes is uniek en moet sodanig hanteer word.