Die meeste vroue gaan jaarliks vir ‘n volledige mediese ondersoek, maar baie stel ‘n finansiële ondersoek vir ‘n leeftyd uit, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Ten spyte van hul mate van sofistikasie, is dit ongelukkig nog so dat baie Suid-Afrikaanse vroue hul finansiële verantwoordelikhede versuim. Hulle plaas steeds hul vertroue in die man in hul lewe om vir hul familie en persoonlike aftrede voorsiening te maak.
Ongelukkig kom spyt te laat en word hierdie fout eers besef ten tyde van ‘n skeisaak of wanneer hul man wegval.
Meer vroue moet verantwoordelikheid vir hul eie toekoms, en dus finansiële strategie, begin neem aangesien hulle langer as mans lewe en bykans een derde van hul leeftyd ná-aftrede voorlê.
Die gemiddelde Suid-Afrikaner verander ses keer van werk en aftreefondse word baie keer nie bewaar nie. Dit word eerder aangewend om ander gate toe te stop of op oorsese vakansies uitgegee.
Die vrou se tradisionele familieverantwoordelikhede lei daartoe dat hulle gewoonlik minder jare as mans aktief werk, wat beteken dat hul spaarperiode korter is.
Nog ‘n belangrike opvoedingstaak is om vroue skuld beter te laat verstaan, asook wat die impak daarvan is.
Kredietkaartskuld is die duurste soort en moet vermy word of eerste afbetaal word en hier moet impulsiewe of emosionele aankope ten alle koste vermy word.
Spaar en risikodekking is twee aspekte waaraan mens spesiale aandag kan skenk.
Wat eersgenoemde betref, is dit belangrik om inflasie se invloed op koopkrag te verstaan asook dat dit een van die hoofredes is om soveel geld moontlik weg te sit. Verder moet hulle die verantwoordelikheid om ‘n neseier op te bou op hul eie skouers neem.
Risikodekking verseker dat vroue en hul kinders finansieel onafhanklik kan wees as hul man skielik sou wegval. Neem sélf lewensdekking op jou man se lewe uit en betaal sélf die premie.
Vroue kan ook hul kinders se toekoms verseker deur dekking op hul eie lewens uit te neem en ‘n gedeelte aan hul kinders te bemaak.
Hulle moet ook nie deur kritieke siektes onkant betrap word nie. Hoewel mediese fondse direkte uitgawes dek, is daar steeds indirekte uitgawes wat met ernstige siekte vereenselwig word.