‘n Mens hoor dikwels “‘n Lewenspolis is ‘n lewenspolis – dit betaal uit by dood”, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Indien jy een van die mense is wat só dink, het ek vir jou vandag ‘n verrassing. Lewenspolisse is nie ‘n een-grootte-pas-almal tipe produk nie en daarom is dit belangrik dat mense en ondernemings seker maak hul polisse voldoen aan hul unieke behoeftes.

Twee aspekte wat ek graag in hierdie rubriek wil uitlig, is die kwessies rondom premie-patrone en waarborgtermyne.

Eersgenoemde verskil van polis tot polis en kan die maandelikse bedrag wat betaalbaar is noemenswaardig beïnvloed.

Die eerste voorbeeld is premies wat op ouderdom gebaseer is. Hierdie tipe is gewoonlik aanvanklik goedkoper, maar werk duurder oor die langtermyn uit.

Premies wat teen ‘n vaste persentasie per jaar styg is, soortgelyk, ook aanvanklik goedkoper.

Dan is daar lewenspolisse waar die premie aan ‘n vaste periode – gewoonlik 15 jaar – gekoppel is en dan geweldig ten tyde van hernuwing styg.

Die ander opsie is gelykblywende premies, waar die bedrag vir die leeftyd van die produk dieselfde bly. Dit is gewoonlik duurder aan die begin, maar koste-effektief oor die langtermyn.

Hier het jy ook die keuse om jou premie met ‘n sekere persentasie per jaar te laat styg.

Finansiële tussengangers mislei dikwels kliënte wanneer dit by maandelikse premies kom en polisse word telkemale vervang omdat dit kwansuis “goedkoper” is. Omdat premie-patrone verskil, is dit baie keer nie die geval nie.

Waarborgtermyne, aan die ander kant, beteken dat die gekwoteerde premie en dekking vir ‘n sekere periode gewaarborg is.

Ná afloop van die termyn, word die winsgewendheid van die risikopoel beoordeel en, indien dit ‘n verlies maak, kan premies drasties verhoog word. Indien die verhoogde risikopremies nie betaal kan word nie, kan die dekking selfs verlaag word.

Die rol van lewenspolisse moenie lig geskat word nie aangesien dit dikwels die enigste manier vir ‘n persoon is om sy gesin by ontydige dood finansieel onafhanklik te laat.

Maak seker jy het genoeg lewensdekking vir boedelkostes soos eksekuteursfooie, boedelbelasting, kapitaalwins en so aan asook vir die delging van skuld en om in jou afhanklikes se behoeftes te voorsien.

Onthou ook goedkoop koop is duurkoop. Wees dus gewaarsku om nie net die goedkoopste opsie te aanvaar nie – vervanging van lewenspolisse is potensieel gevaarlik.

Werk saam met jou finansiële beplanner om ‘n plan vir jou behoeftes saam te stel.