Wanneer ons boedelbeplanning praat, fokus ons op die struktuur en eienaarskap van die bates.

Sekere bates kleef aan die persoon terwyl ander in maatskappye, beslote korporasies (BKs) en in trusts lê.

Individue kan in hul eie naam handel dryf – met ander woorde ’n eenmansaak bedryf – terwyl ander entiteite soos maatskappye, BKs en trusts gebruik word.

Boedelstrukture behoort belastingdoeltreffend te wees en mens kan maklik ’n bloutjie loop indien jy daaraan peuter.

Elke persoon se boedeluitleg verskil natuurlik van die volgende een s’n. Hoe jy getroud is en of kinders later besighede sal oorneem, speel ’n rol.

Nadat die relevante dokumentasie en ander inligting van die kliënt verkry is, is die onus op die kundiges om die kliënt se persoonlike en sakerisiko’s te identifiseer en oplossings daarvoor te vind.

Boedelbeplanning moet holisties gedoen word: ’n individu se bates, laste, testament, besighede en trusts moet sinchroniseer sodat mens presies weet wat die toedrag van sake sal wees met jou afsterwe.

Alle risiko’s moet ondervang wees ten tyde van dood, wat beteken dat daar genoeg kontant vir boedelkoste, borgskappe wat onderteken is en die versorging van naasbestaandes moet wees.

Al onthou jy net dat daar voldoende kontant moet wees om jou boedel sinvol te beredder, is jy reeds op die regte pad.

Testamente moet nagegaan en gewysig word waar nodig om dit uitvoerbaar te maak en dieselfde met trusts. Trusts moet reg geadministreer word.

Belasting speel ’n groot rol tydens die beplanningsfase en dit is raadsaam om die verskillende soorte belasting implikasies korrek te bestuur.

Hierdie sluit inkomstebelasting in, met spesifieke verwysing na artikels 7C, 9HA en 25 van die Inkomstebelastingwet, en is daar ook skenkings-, boedelbelasting en hereregte.

Eksekuteurs- en begrafniskoste sowel as meestersgelde moet in ag geneem word.

Dit is dalk tyd om ’n kundige te nader.