Sekuriteitsessies op verbande kan ’n hele paar slaggate vir die skuldenaar inhou by ontydige dood.
Dit gebeur baie dat individue lewenspolisse as sekuriteit sedeer vir skuld of ’n gedeelte van die skuld wat by finansiële instellings aangegaan word.
In die bedryf staan dit as ’n sekuriteitsessie, die proses waardeur die regte van die eienaar van ’n finansiële produk oorgedra word aan ’n ander party, bekend.
Baie banke vereis sodanige sessies wanneer ’n verband op ’n huis goedgekeur word. Hierdie word natuurlik gebruik om dit af te los wanneer die persoon wat die verband aangegaan het, tot sterwe kom.
Let wel dat die bank, in hierdie geval, nie op eienaarskap geregtig is nie. Die instansie kan slegs aanspraak maak op die sekuriteit soos dit in die kontrak omskryf word.
Skuldenaars moet egter deeglik bewus gemaak word van die uiteenlopende implikasies van sekuriteitsessies en veral hoe dit hul finansiële beplanning kan raak.
Dit is beslis nie ’n geval van een skoengrootte wat almal se voete pas nie. Banke is geneig om sessies op verskillende maniere te hanteer en dit kan komplikasies in terme van dié persoon se boedelbegunstigdes veroorsaak.
Een voorbeeld is dat die volle polisopbrengs deur die versekeraar aan die bank oorbetaal word aangesien die versekeraar van mening is dat die sekuriteitsessie die begunstigdebenoeming herroep terwyl dit van krag is.
In hierdie geval is die posisie van die bank uiters belangrik. Indien die instansie glo dat die benoeming van begunstigde deur die sessie herroep word, sal die balans van die opbrengs van die polis ná die verband vereffen is in die boedel van die kliënt inbetaal word.
Die tweede moontlikheid is dat die versekeraar by die bank navraag sal doen oor wat die presiese uitstaande bedrag ten opsigte van die lening is en dan slegs daardie bedrag oorbetaal.
In sulke gevalle sal die oorblywende opbrengs aan die begunstigde/s wat in die poliskontrak vermeld word, betaal word.
Indien versekerdes nie van die relevante modus operandi bewus is nie, kan dit maklik gebeur dat die oorblywende fondse uiteindelilk deur die verkeerde persoon of persone geërf word.
Hulle moet dus seker maak dat hulle ten volle bewus is van hoe hul skuld gedelg gaan word en aan watter entiteit/e enige oortollige gelde uitbetaal sal word.
Indien jy oorweeg om ’n polis aan ’n bank of soortgelyke instelling te sedeer, stel ek voor jy praat eers met jou finansiële adviseur sodat hy die produk en moontlike implikasies daarvan aan jou kan verduidelik.
Jou adviseur sal ook vir jou kan sê of dit en hoe dit jou finansiële plan sal beïnvloed.