‘n Noukeurige boedelontleding is van onskatbare waarde vir enigeen wat ‘n inkomste verdien, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

En een van die eerste vrae wat beantwoord moet word, is wat die invloed van boedelbelasting gaan wees wanneer jy tot sterwe kom.

‘n Finansiële beplanner sal kan bepaal of boedelbelasting betaalbaar gaan wees en of daar wettige maniere – soos die moontlike herstrukturering van besigheidstrukture – is om dit te beperk.

Moet ook nie die invloed van kapitaalwinsbelasting onderskat nie en, indien jy buite gemeenskap van goedere met inbegrip van die aanwasbedeling getroud is, maak seker jy weet hoe die aanwasbedeling jou boedel gaan raak.

Kom ons kyk na die voorbeeld van ‘n boer wat sy onderneming in 20 jaar gelede begin het toe hy en sy vrou so te sê niks op hul naam gehad het nie.

Sy netto boedel – minus die lewensversekering wat aan sy vrou begunstig is – staan nou op sowat R40 miljoen. Sy bates bestaan hoofsaaklik uit plase.

In sy testament word bepaal dat sy plase aan sy trust bemaak word en die restant aan sy vrou.

Wat hy nie besef het nie, is dat sy vrou ‘n aanwas-eis van om en by R20m teen die boedel sal hê indien hy nou sou sterf. En dít moet uit sy boedel betaal word.

Hy sal dus seker moet maak daar is genoeg geld in die boedel om uitgawes soos uitstaande skuld, aanwas-eise en kontantbemakings te dek. Daaronder val ook boedelkoste, wat meesters- en eksekuteurstariewe, boedelbelasting en kapitaalwins insluit.

Dit bring ‘n mens terug by versekering. As daar nie genoeg kontant in die boedel is nie, bied lewensversekering ‘n eenvoudige manier om dit reg te stel.

‘n Testament bly maar een van die belangrikste aspekte van boedelbeplanning en daarom moet ‘n mens seker maak dis geldig, eenvoudig en prakties uitvoerbaar.

Dit is natuurlik baie makliker om een op te stel indien jy ‘n boedelontleding gedoen het. Jy moet immers weet wát jy kan bemaak.

Dit sal verhoed dat jy iets bemaak wat nie bestaan nie of dat erfgename onaangename verrassings kry.

‘n Kliënt wat sy onderneming aan sy inter vivos-trust en die res van sy boedel aan sy vrou bemaak het, was baie verbaas toe ek aan hom uitgewys het sy gaan niks erf nie.

Hy het gemeen die restant bestaan uit omtrent R3m plus sy persoonlike besittings, maar ek het bereken die boedelkoste beloop sowat R4m.

Wat ek dus sê, is dat ‘n volledige boedelontleding ‘n vereiste vir ‘n sinvolle en maklik uitvoerbare testament is.