Moet daar ’n benoemde begunstigde soos ’n testamentêre trust of gade vir jou lewensversekeringspolis wees?

Die antwoord hierop sal van geval tot geval verskil, aangesien die individu se omstandighede eers in aanmerking geneem moet word alvorens ’n sinvolle besluit geneem kan word.

Elke finansiële plan moet deeglike aandag skenk aan goed soos boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting, eksekuteursfooie, die likiditeit van ’n boedel, batebeskerming teen krediteure en voorsiening vir afhanklikes.

Wanneer die benoeming van ’n begunstigde oorweeg word, moet die moontlike effek op elkeen van hierdie aspekte in gedagte gehou word.

Mense dink dikwels die opbrengs van ’n polis is aan inkomstebelasting en kapitaalwins onderworpe, maar daar is normaalweg geen belastingimplikasies van hierdie aard vir begunstigdes nie.

Die polis is wel ’n geagte bate in die boedel, wat boedelbelasting kan verhoog. Die persepsie dat ’n polis wat begunstig is nie aan boedelbelasting onderworpe is nie, is dus verkeerd.

Daar is wel by sulke polisse nie eksekuteursfooie betrokke nie.

Wanneer daar ’n benoemde begunstigde is, is die versekeringsmaatskappy verplig om die opbrengs direk aan daardie persoon te betaal. Die geld gaan dus nooit boedel toe nie.

Dít verhoed dat begunstigdes moet wag vir die boedel om afgehandel te word.

As daar vir alle polisse begunstigdes is en geen kontant in die boedel beskikbaar is nie, sal die eksekuteur gedwing word om boedelbates te begin likwideer om kostes verbonde aan die afhandeling daarvan te betaal.

Dit is allermins ideaal, omdat die bate gewoonlik die vernaamste woonplek van die afhanklikes is. In die geval van ’n gedwonge verkoping is die prys wat behaal word ook dikwels laer.

Krediteure mag nie die opbrengs van so ’n versekeringspolis eis as die boedel bankrot is nie. ’n Lewenspolis met ’n geldige begunstigde verbind die versekeraar kontraktueel daartoe om dit oor te betaal.

Omdat die opbrengs nie die eienaar toekom nie, kan die polis nooit deel van ’n insolvente boedel wees nie.

Die benoeming van ’n begunstigde kan dus ’n nuttige werktuig wees as jy jou bates teen potensiële krediteure wil beskerm.

Dit kan soms jare duur alvorens ’n boedel beredder word. Begunstigdes word egter gewoonlik binne ’n week of twee betaal, wat hulle help om finansieel onafhanklik te wees totdat die bates kragtens die testament verdeel word.

 

Die benoeming van ’n begunstigde kan dus tot jou voordeel en dié van jou afhanklikes aangewend word, mits aspekte soos likiditeit en aanwas-eise in berekening gebring word.