Die jongste misdaadstatistieke, daaglikse berigte van padongelukke en artikels oor veranderende weerpatrone behoort elke volwasse Suid-Afrikaner te laat besef hoe onontbeerlik korttermynversekering is, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Baie mense wat tot onlangs gemeen het hulle is voldoende teen allerlei terugslae verseker, begin nou twyfel.

Dit is in elk geval noodsaaklik dat elke polishouer gereeld ‒ minstens een keer per jaar ‒ alle besonderhede deeglik bekyk. Dit behels ook ‘n deeglike opname van die goedere wat verseker behoort te wees.

Vir die meeste mense is dit sleurwerk; ‘n pynlike proses om te gaan tel hoeveel beddens, stoele, tafels, kussings en ander huishoudelike goedere hulle het en te bepaal wat die vervangingswaarde daarvan is.

Maar dit is nou maar eenmaal so dat die onus op jóú rus om jou bates ten volle verseker te hou. Die blote feit dat ‘n versekeringspremie elke maand van jou bankrekening afgetrek word, beteken nie jou bates is genoegsaam verseker nie.

Baie mense neem inderhaas korttermynversekering uit ‒ gewoonlik omdat ‘n bank dit vir ‘n huurkooptransaksie of ‘n lening vereis ‒ en hersien dit nie gereeld nie.

‘n Mens moet eenvoudig jou versekering aanpas namate omstandighede verander; iets wat voortdurend gebeur. Die bestuur van jou korttermynversekering kan egter, soos baie paaie en strate in ons omgewing, vol slaggate wees.

Boaan die lys is ongebruikte veiligheidstoestelle. In elke huisinhoudpolis is ‘n klousule waarin die soort beskerming (diefwering, veiligheidshekke, alarms ensomeer) gespesifiseer word.

Baie versekerdes versuim om sulke toestelle in stand te hou en laat hulle mettertyd in onbruik verval. Dit is ‘n groot fout, want ‘n mens sal nie gedek wees as die gespesifiseerde veiligheidstoestelle nie in ‘n goeie werkende toestand is en nie gebruik word nie.

Onderversekering is ‘n ander algemene fout. As jy nie elke jaar daardie paar uur afstaan om ‘n inventaris te voltooi nie, kan dit jou duur te staan kom.

As jy onderverseker is, sal jou versekeraar slegs ‘n proporsionele deel uitbetaal van die totale bedrag waarvoor jy verseker is.

Wanneer jy verhuis, is dit eweneens belangrik om jou makelaar of versekeraar daarvan in kennis te stel. Die sekuriteitsmaatreëls wat jy vir jou oorspronklike adres gespesifiseer het, gaan nie noodwendig vir jou nuwe woning voldoende wees nie.

Jou nuwe tuiste moet opnuut deur jou versekeraar geëvalueer word, aangesien dit ‘n nuwe risiko is en moontlik in ‘n ander gebied met ander omstandighede geleë is. Al dié faktore kan jou maandelikse premie en dekking beïnvloed.

Daarby móét ‘n mens jou versekeraar in kennis stel wanneer jy verbeteringe of verbouings aan jou woning aanbring. Een van die redes is dat diefwering en veiligheidshekke meermale gedurende bouwerk tydelik afgehaal of verskuif word.

Iets anders: mense wat motorversekering uitneem, benoem soms ‘n “gereelde bestuurder” wat in der waarheid nié die gereelde bestuurder is nie. Op dié manier probeer hulle ‘n goedkoper premie bekom.

In die geval van ‘n ongeluk of skade aan die motor, kan sulke wanvoorstellings ‘n negatiewe invloed op jou bybetaling en dekking hê. Jou eis kan geweier word of, waar jou basiese bybetaling afgekoop is, kan jy selfs vir ‘n bybetaling aanspreeklik gehou word.

Verder aanvaar motorversekeraars dat jou voertuig padwaardig is. As dit nie die geval is nie – soos wanneer die assessor bevind dat die bande afgeloop of die remskoene gedaan is – bestaan ‘n moontlikheid dat jy nie teen die skade gedek sal wees nie.

Maak dus tyd om jou versekering met behulp van ‘n goeie makelaar te bestuur.