Die aanwending van trusts word onder sekere omstandighede steeds aanbeveel wanneer iemand finansiële beplanning doen, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

‘n Mens moet egter onthou dat bepaalde reëls nagekom moet word om te verseker dat die voordele wat trusts bied, benut word.

Die korrekte gebruik van ‘n trust kom veral onder die loep wanneer ‘n egpaar skei, moontlik by insolvensie en dood. Veral by dood kan die ontvanger van inkomste ‘n rol speel.

‘n Leser wat midde-in ‘n onstuimige skeisaak is, het juis onlangs gevra of die bates wat na ‘n trust oorgedra is “veilig” is. Om sy vraag te beantwoord, moet die werkinge van ‘n trust eers verduidelik word.

Wanneer dit korrek opgerig is, word dit as ‘n afsonderlike entiteit beskou. Dit is ‘n regsreëling wat vervat is in ‘n kontrak wat die trustakte genoem word.

Daarkragtens dra een party, die stigter, die taak oor aan trustees wat die trust ingevolge die opdrag van die stigter tot voordeel van die begunstigdes moet administreer, of vir die doel wat in die trustakte vervat is.

Sodra die begunstigdes die voordele kragtens die trustakte aanvaar het, mag hulle vereis dat die voorwaardes daarin nagekom word. Maar voordat hulle die voordele aanvaar, mag die stigter en die trustees meestal volgens eie diskresie optree.

Dit is verkieslik dat twee of meer trustees aangestel word waarvan ten minste een ‘n onafhanklike trustee moet wees. Laasgenoemde is iemand wat nie ‘n begunstigde van die trust is nie en ook nie ‘n familielid nie.

As jy die enigste trustee van “jou” trust is, kan dit as ‘n alter ego-trust beskou word. In hierdie geval word die bates as jou eie beskou, wat die doel daarvan ongeldig maak.

Die begunstigdes is diegene wat die inkomste en/of kapitaal van die trust sal ontvang. In ‘n diskresionêre trust mag die begunstigdes die inkomste en/of kapitaal slegs ontvang wanneer die trustees hul diskresie uitoefen.

Hulle is eers op die inkomste en/of kapitaal geregtig wanneer die trustees dit aan hulle toeken. Dit is moontlik, en normaal, dat trustees ook begunstigdes kan wees.

Dit is nie net belangrik dat ‘n trust ten opsigte van die benoeming van trustees en in ander opsigte korrek opgerig moet word nie, maar noodsaaklik dat die transaksies wat aangegaan word behoorlik gedokumenteer word.

Trustees moet gereeld vergader om trustsake te bespreek. Sulke vergadrings moet genotuleer word en besluite moet saamgevat word in ‘n resolusie waarin verklaar word watter trustees teenwoordig was en wie sal optree.

Voordat ‘n trust bates kan bekom of van die hand kan sit, moet ‘n resolusie opgestel word waarin die besluit gedokumenteer word.

Wat alte dikwels gebeur, is dat ‘n trust opgerig word, sê maar deur ene Mnr Jones, en dat hy dan geld uit of na die trust se bankrekening oordra sonder om daaroor verslag te doen. Met ander woorde, hy hanteer die bates soos sy eie.

In dié geval, selfs al is daar ander trustees, sal dit moeilik wees om ‘n buitestander te oortuig dat die trust inderdaad ‘n afsonderlike entiteit is en loop hy die risiko dat die skeidslyn tussen hom en die trust kan vervaag.

Daarby moet die oordrag van bates van Mnr Jones na die trust ook behoorlik gestruktureer word. Transaksies soos verkope en donasies moet op die regte manier behartig word en, waar van toepassing, moet leningsrekenings geskep word.

‘n Trust is dus ‘n veilige hawe indien die trustakte korrek opgerig en geadministreer word. Normaalweg is die trustdokument korrek, maar die administrasie skiet tekort.

Indien jy oor ‘n trust beskik en onseker is oor die geldigheid daarvan, is my raad om sonder versuim ‘n kundige te raadpleeg.