Vandag se rubriek bestaan grootliks uit ‘n aantal waardevolle riglyne uit ‘n bron wat dalk vir sommige lesers ‘n verrassing sal wees, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Dié pitkos staan al eeue lank bekend as die wyshede van Salomo, soos opgeteken in die Bybelboek Spreuke.
Ek gaan nie op die inspirerende gedagtes uitwei nie, maar glo dat almal, deur hierdie verse te lees, iets sal vind wat hulle in hul alledaagse lewe – en veral op finansiële gebied – sal help.
Die aanhalings bevestig terselfdertyd dat beginsels uit die Bybelse tydperk nie verander het nie.
• Spreuke 4 vers 14 – Wyshede het meer voordele as geld;
• 6:6 – Jou luiaard, leer by die mier wat wysheid is;
• 6:8 – Hy [die mier] kry reeds in die somer sy kosvoorraad reg. Die oestyd werk hy klaar voor die winter kom;
• 10:4 – Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk;
• 11:2 – Nederigheid bring wysheid;
• 11:15 – Dit is gevaarlik om vir iemand borg te staan; dit is veiliger om nee te sê;
• 12:24 – Dié wat pligsgetrou werk, word leiers;
• 13:11 – Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaar maak, het naderhand baie;
• 13:16 – ‘n Verstandige mens dink voor hy iets doen;
• 15:15 – Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ‘n fees;
• 15:33 – Nederigheid kom eerste, daarna volg eer;
• 16:18 – Hoogmoed lei tot ondergang;
• 16:32 – Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem;
• 17:22 – ‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag;
• 17:27 – Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm;
• 19:4 – Rykdom bring baie mooiweersvriende;
• 19:17 – Om na ‘n arm mens om te sien, is ‘n lening aan die Here. Hy sal jou daarvoor vergoed;
• 20:13 – Moenie lief wees vir slaap nie; jy kan in armoede verval. Wees wakker, en jy sal genoeg hê om te eet;
• 21:5 – Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek;
• 23:13 – Moenie bang wees om jou kind te dissiplineer nie. Hy sal nie doodgaan van ‘n pak slae nie;
• 27:01 – Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie;
• 27:18 – Wie omsien na die belange van sy werkgewer sal voordeel daaruit trek;
• 28:19 – Iemand wat sy grond bewerk, sal volop hê om te eet;
• 29:21 – ‘n Slaaf wat van kleins af bederf is, is opstandig wanneer hy groot is.
Deur hierdie gedagtes van Salomo te lees, te bedink en in jou daaglikse lewe toe te pas, besef ‘n mens gou wat werklik belangrik is.
Ons almal smag mos maar na meer verstandigheid — en in Spreuke kry ‘n mens dit gratis.