Individue wat Suid-Afrikaanse inwoners vir belastingdoeleindes is, is belastingpligtig op hulle wêreldwye inkomste. Dit sluit alle kapitaalwins in wat jy genereer as jy ‘n aandeel of ‘n mutual fund teen ‘n wins verkoop, asook rente en dividende wat jy in die buiteland verdien. Tensy wetgewing of ‘n dubbel-belastingooreenkoms anders bepaal, kan jy swaarder belas word as wat jy verwag het.
Die groot probleem begin egter eers by die kliënt se dood, wanneer die buitelandse boedel afgehandel en boedelbelasting betaal moet word. In sekere jurisdiksies kan dit tot 40% beloop. Die proses kan ook baie duur wees en lank neem om af te handel. In hierdie tyd is die belegging gewoonlik nie vir die naasbestaandes toeganklik nie, wat nog groter trauma en finansiële stres kan meebring.
Verskeie beleggingshuise in Suid-Afrika het hierdie probleme aangepak en ‘n oplossing in die vorm van ‘n beleggingsplatform binne ‘n polis ontwikkel.
Dit hou verskeie voordele in: Jy kry gekonsolideerde verslagdoening met toegang tot ‘n groot verskeidenheid fondsbestuurders regoor die wêreld en boonop, in die meeste gevalle, teen laer fondsebestuurskoste.
Die versekeraars betaal alle belasting. Jy hoef dus nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verslag te doen oor dividende, kapitaalwins, wisselkoerswinste of rente wat jy op hierdie produk ontvang nie. Ooreenkomstig artikel 29A van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet 58 van 1962) betaal die versekeraar 12% kapitaalwinsbelasting en 30% belasting op rente en ander inkomste, Vergelyk dit met die maksimumkoers van 45% wat deur individue betaalbaar is.
Gewoonlik is daar die opsie om meer as een polishouer op so ‘n polis aan te wys. Dit beteken die belegging bly voortbestaan indien een van die polishouers sterf. So nie kan begunstigdes aangewys word om die opbrengs van die belegging te ontvang as die polishouer sterf.
In hierdie gevalle gaan die belegging dus nooit deel van jou boedelproses wees nie en die gepaardgaande vertragings word uitgeskakel. Geen eksekuteursfooie sal betaalbaar wees nie. Jy kan ook duur boedelberedderingskoste en oorsese boedelbelasting vermy, omdat buitelandse bates binne die beleggingspolis uitgesluit is van hierdie belasting en prosesse.
Bogenoemde is die beste praktyk om direkte buitelandse beleggings te doen. “Direk” beteken jy moet belastingklaring kry vir meer as R1milj en die belangrikste is dat die geld nooit hoef terug te kom Suid-Afrika toe nie.