Die hoofdoel van ’n aftreefonds is om ’n stabiele bron van inkomste tydens aftrede te bied.

Tog onttrek baie mense hul spaargeld voortydig, wat hul finansiële sekuriteit in die toekoms in gedrang bring. Ramings dui daarop dat jaarliks sowat R78-miljard uit die aftreestelsel onttrek word.

Gereelde onttrekkings van aftreespaargeld by werkveranderinge beteken dat slegs sowat 10 persent van fondslede hul huidige lewenstyl ná aftrede handhaaf.

Die Twee-Pot-aftreestelsel, wat beoog om hierdie probleem aan te spreek, tree op 1 September vanjaar in werking.

Daarvolgens sal toekomstige bydraes tot aftreefondse uit drie komponente, naamlik spaar, aftree en gevestigde (insluitende bestaande aftreegeld), bestaan. Hoewel dit die “twee-pot”-stelsel heet, is daar dus eintlik drie “potte”.

Die gevestigde komponent sluit spaargeld in wat voor 1 September, 2024, in die fonds opgebou is, terwyl een- en twee-derdes van alle nuwe bydraes onderskeidelik tussen die spaar- en aftreekomponent verdeel word.

Lede sal aanvanklik toegelaat word om 10 persent – tot ’n maksimum van R30 000 – van die bestaande fonds (gevestigde komponent) na die spaarkomponent oor te dra.

Die twee-derdes wat na die aftreekomponent gaan, is slegs by aftrede of vanaf ’n ouderdom van 55 beskikbaar. Hiermee word lede verplig om ’n lewende annuïteit of lyfrente aan te koop wat hulle van ’n maandelikse inkomste kan voorsien.

Lede van voorsorgfondse wat op 1 Maart, 2021, 55 jaar of ouer was en steeds lede van dieselfde fonds is, sal onder die ou stelsel voortgaan. Hulle het wel die opsie om voor 1 September, 2025, na die nuwe een toe oor te skakel.

Hoe werk die jaarlikse kontantonttrekkings?

Geld wat in die spaarkomponent gestoor word, kan een keer per belastingjaar onttrek word – mits dit ’n minimum onttrekking van R2 000 en maksimum van R25 000 behels. Hierdie onttrekkings word teen die marginale belastingkoers van die lid belas.

Wat gebeur by bedanking?

Lede kan steeds die volle bedrag, onder dieselfde reëls as voorheen, in kontant vanuit die gevestigde komponent neem by bedanking en hierdie word dan teen ’n ontrekkingsbelasting-tabel belas.

Die volle bedrag kan ook vanuit die spaarkomponent geneem word, maar sal teen die individu se marginale belastingkoers belas word.

Die aftreekomponent moet vir aftrede bewaar word en die lid het dus geen toegang tot hierdie fondse nie. In die geval van ’n uittree-annuïteit sal die fondse eers vanaf ouderdom 55 beskikbaar wees.

Wat gebeur by aftrede?

Lede word beperk tot een-derde kontant vanuit die gevestigde komponent en kan die volle bedrag uit die spaarkomponent neem. Beide sal soos per die aftreebelasting-tabel belas word.

Die twee-derdes van die gevestigde- en aftreekomponent moet gebruik word om ’n annuïteit te koop. Die inkomste wat hieruit ontvang word, sal belas word teen die individu se marginale belastingkoers. Hierdie sluit die aftree-annuïteit in.

Voorsorgfondse is meer kompleks en daar is ’n addisionele komponent wat dus in gedagte gehou moet word by aftrede, aangesien jy die volle bedrag van daardie komponent in kontant sal kan neem.

Die nuwe stelsel bied ’n gestruktureerde benadering tot aftreespaargeld, met die doel om finansiële sekuriteit te verseker, terwyl toegang tot fondse vir noodgevalle steeds moontlik is.

Behalwe in absolute noodgevalle, moet nie daardie aftreegeld waarvoor jy hard gewerk het vroegtydig onttrek nie. Dit is ’n resep vir snot en trane in ’n latere stadium.