Index

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
post

Kweek ’n besigheidsin by kinders

’n Eie onderneming is die loopbaan van die toekoms.

Dit is noodsaaklik dat ouers hul kinders van vroeg af leer sake doen. Deur hul sakesin te ontwikkel, kan mens hulle ’n waardevolle voorsprong gee.

Om op ’n eenvoudige manier te verduidelik wat ’n sake-onderneming nou eintlik is, is partykeer nogal moeilik. Die grondslag van die meeste ondernemings is ’n produk wat verkoop word, hetsy dit aangekoop, vervaardig of selfs gekweek word. Die konsep van besigheid strek egter veel wyer en dis belangrik om dit op ’n praktiese manier by kinders tuis te bring.

In ’n vorige Sarie tydskrif het ek eenslag op ’n interessante artikel afgekom wat min of meer so lees:

Koos het sy kind op laerskool begin leer om soos ’n entrepreneur te dink. Toe Kobus sakgeld vra, het hy ’n paar pakkies saad gekry om ’n groentetuin te begin. Hy moes dit natgooi en oppas, want sy pa het hom geleer dis sy kapitaal wat daar groei.

Gou was hy goeie kompetisie vir die groentewinkels op die dorp. Sy onderneming het floreer en elke sent is gespaar, wat dissipline op so ’n jong ouderdom verg.

Kobus het sy besigheid verder uitgebrei deur boereworsrolle te verkoop, met ’n waentjie wat hy self gekoop het.

Vandag is hy ’n suksesvolle eiendomsontwikkelaar wat sê hy het kleintyd waardevolle lesse geleer waarvoor geen universiteitsgraad hom sou kon voorberei nie.

Deurdat hy vroeg in sy lewe aan besigheid blootgestel is, het hy vir homself werk geskep.

Die aandelemark is nog ’n manier waarop ouers hul kinders aan besigheid kan blootstel. Begin met denkbeeldige geld. Laat die kind aandele kies, “koop” en dophou. Stel doelwitte en speel saam.

Jy sal verbaas wees oor die resultate. ’n Kind se sakesin ontwikkel gou.

Dis ook belangrik dat ’n kind moet leer die sakewêreld is nie altyd teerpad nie. Die suksesvolste sakemense is diegene wat een keer meer opstaan as wat hy of sy platgeslaan is.

Opvoeding is nie speletjies nie. Ouers moet betrokke raak en verantwoordelikheid vir hul kinders se toekoms aanvaar.