Ons by PWM stoei daagliks namens ons kliënte met versekeraars oor onbillike premies, die weiering van eise en die vereistes ten opsigte van risiko-oorsigte.
Dit is vir niemand lekker om ’n premieverhoging te kry nie – en beslis nie as ons van dubbelsyfers praat nie.
Ons weet versekeraars sukkel met hul onderskrywingswinste as gevolg van natuurrampe soos die vloede in KwaZulu-Natal en die brande in die Wes-Kaap.
Beleggingsmarkte is die ander been waar hulle gewoonlik ’n inkomste verdien en dié het ook nie die afgelope aantal jare wat wonders presteer nie.
Die alternatief? Verhoog daai premies!
Dit is als goed en wel, maar myns insiens moet mens nie premieverhogings goedsmoeds aanvaar nie.
Die bepalende faktor hier is jou eiseverhouding. As dit buitengewoon hoog is kan jy ’n bogemiddelde styging verwag.
Volgehoue hoë eise kan die versekeraar selfs noop om jou polis te kanselleer. Vermy dit teen alle koste, aangesien dit dan nie maklik sal wees om weer nuwe versekering te kry nie.
Probeer eerder om jou risiko beter te bestuur. Jou makelaar sal hierdie asook enige onderhandelinge namens jou hanteer.
Die weiering van eise is ook baie omstrede, almal het al seker gehoor “ek betaal my premies, maar as dit by eisestadium kom, weier die versekeraar my eise.” Dit is egter nie waar dat eise summier verwerp word nie.
In al my jare in hierdie bedryf het ek nog nie ’n eis wat volgens kontrakvoorwaardes betaalbaar is gesien wat geweier is nie.
In grys gevalle behoort jou tussenganger vir jou in die bresse te tree. Indien PWM nie met die uitkoms van ‘n eis saamstem nie, baklei ons namens ons kliënte, en het al in talle gevalle positiewe uitkomste ontvang.
Eise word geweier wanneer polisvoorwaardes nie nagekom word nie.
’n Gebrek aan onderhoud aan jou infrastruktuur is een so ’n voorbeeld. Maak seker daai geute bly skoon!
Jy moet natuurlik ook voldoen aan wetgewing en regulasies wat op die risiko onder jou polis van toepassing is. Ek dink hier onder meer aan dronkbestuur en gladde bande.
Jou kontrak het gewoonlik ook spesifieke sekuriteitsvereistes. ’n Ongeaktiveerde alarm sal jou diefstal-eis kelder.
Dit is ook belangrik om te onthou dat wanneer ’n bate afgeskryf word dit die eiendom van die versekeraar raak. Jy kan dit nie sonder hul toestemming weggooi of verkoop nie, hulle het die reg om die eis te weier indien jy jou hieraan skuldig maak.
Jy kan wel met die versekeraar onderhandel om die item van hul af terug te koop.
Versekeraars doen oorsigte by groot & gekompliseerde risiko’s. Daar is sekere wetlike vereistes waaraan alle kliënte moet voldoen. Indien jy as kliënt nie saamstem nie, moet jy met jou makelaar/versekeraar gesels om te kyk of daar nie ‘n moontlike middeweg gevind kan word nie.
Jou makelaar speel ‘n GROOT rol om seker te maak dat jy billike premies betaal en dat jou geldige eise volgens jou versekeringskontrak betaal word. Onthou dit.