In die praktyk maak min besigheidseienaars en entrepreneurs voldoende voorsiening vir aftrede, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Finansiële Bestuur in Port Elizabeth.

Baie van hulle beplan om nie amptelik af te tree nie en dus is daar geen voorsiening in plek nie.

‘n Gevaar is of die besigheid genoeg waarde het om voldoende fondse by aftrede te genereer – gewoonlik is daar nie. Dan is daar ook die kwessie of daar ‘n geskikte en gewillige koper is.

Wanneer ‘n uitgangstrategie beplan word, is daar ‘n hele aantal aspekte wat in aanmerking geneem moet word en die een kan ongelukkig nie in isolasie van die ander gesien word nie.

Besigheids- en aftreebeplanning het ‘n direkte impak op die finansiële plan van die betrokke individu en spesifiek op sy of haar boedelbeplanning en testament.

Dit is dus noodsaaklik om besigheids-, opvolg-, aftree-, belasting- en boedelbeplanning as ‘n holistiese strategie te hanteer. Elkeen beïnvloed die ander.

Hoewel daar verskeie metodes is om eendag aftrede te befonds, raak ek vandag slegs een aan. Die koop-en-verkoopooreenkoms.

Normaalweg word een opgetrek sodat die geaffekteerde party se aandele deur sy mede-aandeelhouers of buitepersone by dood of permanente ongeskiktheid uitgekoop kan word.

Die reëlings word alles in ‘n skriftelik ooreenkoms vervat wat deur beide partye geteken is. Die finansiering van so ‘n transaksie word gewoonlik moontlik gemaak deur middel van lewens-en-ongeskiktheiddekking.

Hierdie beantwoord egter nie die vraag by aftrede nie.

‘n Lewende koop-en-verkooptransaksie is egter ook moontlik. Hier word ‘n ooreenkoms getref tussen die eienaar wat wil aftree en die geïdentifiseerde persoon wat die aandele wil oorneem by aftrede.

‘n Skriftelike ooreenkoms is noodsaaklik en dit kan die verkoop van alle aandele op ‘n spesifieke datum, vermindering van aandeelhouding oor ‘n periode van tyd of oorname by aftrede beskryf.

Die versekerbare belang word geskep met die ooreenkoms. In hierdie geval kan die koopprys met ‘n uitkeerpolis oor ‘n spesifiek tydperk gefinansier word.

Ongeag watter metode jy verkies, maak seker dat aftrede moontlik is. Dit is potensieel gevaarlik om van jou kinders finansieel afhanklik te wees.