Kan jy met aftrede op minder as ’n derde van jou inkomste oorleef? Want dis die werklikheid wat baie werkende mense in die gesig staar.
Volgens ’n onlangse opname wat die aftreespaargewoontes van Suid-Afrikaners wat inkomste verdien, ondersoek het, kan die gemiddelde afgetredene net 31 persent van hul inkomste met aftree spaargeld vervang.
In reële terme beteken dit dat die meeste van ons, nadat ons vir dekades gewerk het, gedwing sal word om van minder as ’n derde van ons voor-aftrede-inkomste te leef.
Twanji Kalula van Allan Gray het hieroor uitgewy in ’n onlangse artikel wat in die Quarterly Commentary verskyn het. Sy sienings strook met PWM se aftreebeplanning filosofie en dus deel ek graag ’n paar uittreksels.
Om gemaklik te kan aftree, is volgens hom een van die mees algemene doelwitte van langtermyn finansiële beplanning. Die meeste van ons sal ’n punt bereik waar ons nie meer ’n gereelde inkomste genereer nie en dan ’n inkomste uit ons spaargeld sal moet trek.
Kalula sê baie beleggers kom tot die besef dat hulle eenvoudig nie die geld het om die leefstyl waaraan hulle gewoond geraak het te handhaaf nie, al het hulle vir aftrede gespaar.
Hierdie besef kom dikwels te laat en eers wanneer daar nie meer genoeg tyd is om die situasie te beredder nie.
Een van die redes waarom meeste mense die punt mis, sê hy, is omdat hulle nie verstaan hoeveel geld hulle met aftrede nodig sal hê nie.
Die meeste kenners stel voor dat jy ten minste 75 persent van jou finale inkomste op aftree-ouderdom moet kan vervang om ’n soortgelyke lewenstandaard te handhaaf. Dit beteken dat ons enigiets van 12 tot 17 persent van ons inkomste behoort te spaar vanaf die dag wanneer ons begin werk.
Die data van die bogenoemde opname soos deur Kalula aangehaal, toon ook dat net nege persent van afgetredenes 80 persent of meer van hul inkomste kan vervang.
Hierdie statistieke word ondersteun deur die anekdotiese terugvoer van onafhanklike finansiële adviseurs wat sê dat 90 persent van hul kliënte nie gemaklik kan aftree nie.
Dit beteken dat baie afgetredenes onvermydelik aangewese sal wees op die finansiële ondersteuning van geliefdes of maniere moet vind om ’n inkomste te genereer.
Verminder die risiko deur ’n jaarlikse hersiening van jou aftreeplan uit te voer om te verseker dat jou projeksies akkuraat is.
Finansiële adviseurs kan jou help om jou huidige lewenskoste te bepaal en uitwerk hoeveel jy in jou huidige lewensfase moet spaar vir ’n gemaklike aftrede.