Die onlangse versterking van die rand het menige buitelandse beleggers in ‘n koue sweet laat uitslaan, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Die rand se stormloop teen bykans alle geldeenhede was heeltemal onverwags en die afgelope kwartaal is dit die sterkste geldeenheid in ontluikende markte.
Behalwe die pasafgelope munisipale verkiesings, is die konsensus dat geen ander onderliggende faktore in Suid-Afrika hiertoe aanleiding gegee het nie.
Dit blyk of ontwikkelende markte besig is om weer ‘n aptyt op te bou vir beleggings in ontluikende markte. Ten spyte van die moontlike risiko’s, is die opbrengste gewoonlik hoër.
Die vraag is natuurlik hoe dit individuele beleggers soos ek en jy beïnvloed.
My raad is om rustig te wees en nie emosionele besluite te neem nie. Ek het onlangs ‘n bekommerde belegger aangeraai om eerder te gaan vleisbraai aangesien sy belegging oor tyd die gewenste opbrengste sal lewer.
Die rand se skommelinge bewys natuurlik weer hoekom dit belangrik is om ‘n gediversifiseerde beleggingsportefeulje te hê. Sommige beleggings sal presteer terwyl ander swaarkry.
Die netto resultaat is gewoonlik ‘n bogemiddelde opbrengs oor die langtermyn en ek dink dis belangrik om die termyn te beklemtoon. Moenie jou belegging oor die korttermyn beoordeel nie – dit waarborg slapelose nagte!
Dis bitter moeilik om die bewegings in die wisselkoers te voorspel aangesien dit baie volatiel oor die korttermyn kan wees. Die rand het oor ‘n periode van tyd stelselmatig verswak en dis waarskynlik dat hierdie tendens sal voortduur.
Swak opbrengste oor, byvoorbeeld, ‘n jaar beteken glad nie dat ‘n swak belegging gemaak is nie.
Dis my mening dat jy steeds ‘n gedeelte van jou beleggingsportefeulje in die buiteland moet hê.