‘n Maatskappy kan maklik sink wanneer dit ‘n sleutelpersoon verloor, maar gelukkig is daar maniere om sulke terugslae te bowe te kom, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Eienaars moet in vandag se ekonomiese omstandighede kennis neem van die belangrikheid van kontinuïteitsbeplanning, wat vir elke moontlike gebeurtenis voorsiening maak.

Omdat soveel klein-, medium- en mikro-ondernemings op die kennis, vaardighede en verhoudings van ‘n paar sleutelpersone aangewese is, is die versekering van sulke personeellede ‘n uiters belangrike bestanddeel van kontinuïteitsbeplanning.

Dié tipe langtermyn-risikoversekering is iets wat in die moderne sakewêreld noodsaaklik geword het en daarom word dit heel gepas sleutelpersoonversekering genoem.

Dié versekering verskaf dekking vir die onverwagse dood of langtermyn ongeskiktheid van sleutelpersone, wat ‘n bedreiging vir die stabiliteit, winste en toekomstige lewensvatbaarheid van die onderneming kan inhou.

Die lewe van ‘n dinamiese werknemer – iemand wat daadwerklik tot die maatskappy se welslae bydra – kan ook verseker word, sowel as die entrepreneur wie se vaardighede die vernaamste dryfkrag agter die onderneming is.

Om die dienste van ‘n vaardige en hoogs gekwalifiseerde mens te bekom en te beskerm is nie altyd maklik nie. Sulke werknemers dra gespesialiseerde vaardighede en kennis by wat deurslaggewend tot die welslae van die onderneming is en uiters moeilik is om te vervang.

Wanneer hulle nie meer daar is nie, kan die maatskappy se winste ernstig geknou word en sodoende kan dit selfs moeilik raak om finansiering te bekom.

Dit kan ook beteken dat duur stappe gevolg moet word om ‘n plaasvervanger te kry en op te lei.

Dit kan selfs gebeur dat skuldeisers wat van die dood van ‘n belangrike lid van die personeel verneem, daarop aandring dat hulle dadelik betaal word.

Daarby kan belangrike betrekkinge met kliënte in die slag bly as so ‘n vakature ontstaan.

Versekering teen die verlies van sleutelpersone verskaf ‘n byna onmisbare veiligheidsnet vir kwesbare ondernemings en is veral belangrik vir een wat deur die eienaar self bestuur word en waarvan die volhoubaarheid in die hande van een of twee individue is.

Nog ‘n faktor wat deeglik oorweeg moet word, is die implikasies van boedelbelasting. Omdat die opbrengs van sleutelpersoonversekering aan die werkgewer of sakevennoot betaal word, aanvaar die versekerde soms dat boedelbelasting nie van toepassing is nie.

Dit is dikwels wel die geval, maar daar kan uitsonderinge wees, afhangende van die struktuur van die ooreenkoms.

Praat vandag nog met jou finansiële raadgewer om die toekoms van jou onderneming te verseker.