Aandelemarkte wat wipplank ry, soos nou, dryf beleggers dikwels om emosionele besluite te neem, skryf Pieter Willem, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Met die onlangse styging in die algemene indeks was dit duidelik dat baie mense gespring het om aandele te koop, wat ‘n tipiese voorbeeld is van die rol wat emosie speel.
Die vraag wat hulle eintlik behoort te vra, is of die ondernemings waarin hulle belê het enigsins meer wins gaan maak as wat ‘n paar maande gelede verwag was. Dié antwoord is gewoonlik “nee”.
Ek het voorheen verduidelik hoe onstabiliteit in finansiële markte ná gebeurtenisse soos terroriste-aanvalle en natuurrampe tot paniekerigheid, en dus emosionele besluite, by beleggers kan lei – en dis nou méér van toepassing as ooit.
Ekonome maan teen emosionele besluite wat beleggers se langtermyn-doelwitte negatief kan beïnvloed en selfs vernietigende gevolge kan hê. Op dié terrein moet ‘n mens altyd deurdagte besluite neem wat op logiese, redelike denke gegrond is.
Emosie kan veroorsaak dat beleggers paniekerig raak wanneer die mark terugsak of die ekonomie sukkel en gulsig raak wanneer die mark skielik opvlam.
‘n Opswaai laat baie beleggers blindelings agter “die trop” aanstorm en in hul gulsigheid is hulle geneig om dinge te doen wat nie goed deurdink is nie.
Sommige vermy skielik risiko’s wat heel aanvaarbaar was toe hulle hul langtermyn-beplanning gedoen het. Ander aanvaar weer risiko’s wat nie met hul langtermyn-strategie strook nie.
Die oorsprong van die gesegde wat lui dat die markte deur gulsigheid en vrees gedryf word, kan duidelik in sommige mense se beleggingsfilosofie gesien word.
Navorsing deur Dalbar wys ewe duidelik hoe die afbrekende kragte van emosionele besluite beleggers benadeel.
Dit wys dat in die twee dekades tot en met 2009 die algemene markindeks meer gegroei het as die beleggings van beleggers wat die markte probeer bestuur het terwyl die element van emosie betrokke was.
Waar beleggers die markte probeer “time” het, het dit omtrent altyd ‘n negatiewe uitwerking op groei, want foutlose tydsberekening is byna onmoontlik.
Die enigste uitweg is ‘n gediversifiseerde beleggingsportefeulje waarin die keuse van bateklasse jou doelwitte weerspieël.
Een van die maniere waarop beleggers emosionele besluite kan vermy, is om ‘n gesoute beleggingsadviseur te raadpleeg. Die kundige behoort die kliënt mooi in die regte rigting te stuur en te help om rasioneel oor ‘n strategie te besluit.
Jy kan emosionele besluite vermy deur jou beleggingsdoelwitte te verstaan en daarby te hou. Wees ook realisties oor die groei wat jy verwag en beplan jou beleggingstydperke sodat hulle met jou lewenspatroon ooreenstem.
In kort, vermy korttermyn-spekulasie en spits jou op jou langtermyn-doelwitte toe.