Geld is een van die belangrikste aspekte in elke individu en huisgesin se lewe – dit is nou maar wors.
Daarom, nét soos met jou gesondheid, is dit belangrik om roetine-ondersoeke te laat doen om jou finansiële welstand te bepaal.
Indien jy nalaat om dit te doen, is die finansiële “waakeenheid” verseker jou voorland – veral in ’n tyd wanneer die ekonomie self met ’n paar skete worstel.
Die formule is eintlik nie ’n moeilike een nie: Spandeer minder as wat jy verdien en jy het reeds die eerste stap na welvaart geneem. Gee meer as jou inkomste uit en jy is sterk op pad bankrotskap toe.
Die doel van ’n begroting is juis om hierdie situasie te kan bestuur en daarvoor het mens werklik nie ’n finansiële graad nodig nie. Hou net rekord van jou inkomstes en uitgawes en begroot dan daarvolgens.
Die begroting sal vinnig wys wanneer jy in die verkeerde rigting begin beweeg en dan kan jy daarvolgens maatreëls instel. Doen dit net betyds!
Finansiële beplanning eindig natuurlik nie by ’n begroting nie.
Indien jy die broodwinner is, maak seker jou afhanklikes is finansieel onafhanklik by jou ontydige dood.
Dan vra jouself of jy ’n inkomstebeskermer in plek het in die geval van tydelike en/of permanente ongeskiktheid. Indien jy nie kan werk nie, is daar nie geld nie.
Indien jy môre iets sou oorkom, weet jy of daar voldoende kontant in jou boedel is om die beredderingsproses sinvol af te handel? Betaling van skuld, boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting om net ‘n paar te noem. Likiditeit verhoed dat die eksekuteur noodgedwonge bates moet verkoop.
Jongmense, veral, moet aandagtig luister. Moenie dink niks kan jou oorkom nie.
Dan moet ek vra of jou testament op datum is? Vermy dat jy met jou broek op jou knieë gevang word! Dit is ’n lewende dokument wat voortdurend volgens jou omstandighede aangepas moet word.
Nog ’n belangrike risiko-aspek is mediese onkostes en hier beveel ek ten minste ’n hospitaalplan aan indien jou fondse beperk is.
Verdere elemente sluit aftree-, beleggings- en besigheidsbeplanning (indien jy ’n onderneming besit) in.
En, onthou, als wat ek vandag hier aangespreek het kan gemaklik met bestaande risiko-produkte aangespreek word.
En wat as jou inkomstes jou uitgawes oorskry? Spaar! Hoe vroeër hoe beter. Onthou, saamgestelde rente is jou allerbeste vriend.