Mense wend trusts vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes aan, al ken of verstaan hulle dikwels nie die regsreëls wat van toepassing is nie, skryf Pieter Willem Moolman, stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.
Hoewel daar nie trustwetgewing soos by maatskappye is nie, word trusts al hoe meer deur howe aan noukeurige ondersoek onderwerp en dan speel presedentereg ‘n rol.
‘n Mens moet dus seker wees jou trustakte is op datum en die trustdokumente byderhand.
‘n Inter vivos-trust, wat ook ‘n gesinstrust genoem word, is die tegniese naam van ‘n trust wat bestaan terwyl jy nog lewe. Die teenoorgestelde is ‘n testamentêre trust wat in werking tree wanneer jy sterf.
Eersgenoemde word dikwels gebruik vir boedelbeplanningsdoeleindes. Dit stel mense in staat om partykeer boedelbelasting te verminder, gesinsbelange te beskerm, ‘n familieplaas van een geslag na ‘n ander oor te dra of om beleggings vir minderjarige begunstigdes te bewaar totdat hulle oud genoeg is.
As jy die stigter van die trust is, is jy daarop geregtig om ‘n mede-trustee aan te stel en om as ‘n begunstigde in die trustakte benoem te word.
Om te verhinder dat jou trust as ‘n alter ego-trust beskou word, moet minstens een onafhanklike trustee aangestel word. Dit is iemand wat nie aan die begunstigdes verwant is nie en nie deur die besluite van die stigter of mede-trustees beïnvloed word nie.
Wees versigtig dat die trustbates nie as die stigter se persoonlike bates beskou word nie. Dit is daarom belangrik dat die stigter afstand doen van die eienaarskap van sy roerende of onroerende eiendom.
Die stigter verloor dus die beheer van sulke bates. Dit het wet geword ingevolge ‘n besluit van die Appèlhof waarin bepaal is dat die kerngedagte van ‘n trust juis die skeiding van eienaarskap (of beheer) van die bate en die genieting daarvan is.
Trustees word aangestel om – na hul diskresie en in ooreenstemming met die magte wat in die akte aan hulle toegeken is – namens benoemde begunstigdes trusteiendom te ontvang, te beheer, te bestuur en te verdeel.
Ten opsigte van trusteiendom maak die akte daarvoor voorsiening dat trustees met of sonder rente lenings mag bekom of toestaan. Die leningsrekenings sal in die finansiële jaarstate weerspieël word en ‘n leningsooreenkoms moet opgestel word waarin die bedrag en die voorwaardes van terugbetaling aangedui word, asook of rente van toepassing is.
Dit is belangrik want lenings sonder ‘n ooreenkoms kan as donasies vertolk word en dan moet donasiebelasting betaal word.
Die trust moet ook ‘n bindende huurooreenkoms hê indien trusteiendom aan derde party verhuur word.
Die trustees moet ‘n ooreenkoms onderteken waarin hulle saamstem dat die trust ‘n huurooreenkoms mag aangaan of ‘n lening mag toestaan. Daarby moet hulle aan een van die trustees magtiging gee om die ooreenkoms as ‘n verteenwoordiger van die trust te onderteken.
Huur- en leningsooreenkomste, asook bewyse van besluite, is van die trustdokumente wat byderhand gehou moet word wanneer jou trust van nader beskou word.
Indien jy onsekerheid oor jou trustakte het, raai ek jou aan om dit nou te hersien. En, indien jy onaangename verrassings wil vryspring, maak seker jou trustadministrasie is op datum.