Spaar vróég vir aftrede en waak teen konserwatisme

Beleggers wat vroeg vanjaar reeds belangrike besluite moet neem, betree ‘n ongelyke speelveld waarop ‘n mens figuurlik en finansieel kan seerkry, skryf Pieter Willem Moolman.

Onseker markte, onstabiele wisselkoerse en lae rentekoerse bring nuwe uitdagings mee. En moenie die politiek vergeet nie.

Een van die eerste take op die lys van dinge wat gedoen moet word, is om seker te maak jy gaan genoeg geld hê wanneer jy die dag aftree. Te veel mense begin te laat spaar.

Jong mense sê maklik hulle kan nie nou al aan aftree dink nie. Hulle móét eenvoudig sekere noodsaaklikhede – soos ‘n ryding – aanskaf. Om van ‘n woonplek en meubels nie eens te praat nie.

Wanneer hulle hul eerste salaristjeks of bonus kry, is spaar vir aftrede nie boaan die lys van uitgawes nie. Dié noodsaaklikheid word uitgestel en op dié manier verkort baie mense die tydhorison van hul beleggings.

Die gevolge van saamgestelde rente oor ‘n lang tydperk word in finansiële kringe soms die agtste wonder van die wêreld genoem, want dit is een van die beste beleggingsinstrumente.

Almal wat geld verdien, moet aangemoedig word om so vroeg moontlik te begin spaar, want hoe langer ‘n belegging se tydhorison is, hoe groter is die opbrengs van saamgestelde rente.

Ten tweede: wanneer mense uiteindelik vir hul aftrede begin belê, onderskat hulle dikwels die deel van hul salaris wat gespaar moet word.

Diegene wat in hul vroeë jare 20 begin spaar, moet tussen 13 en 20 persent van hul salaris spaar as hulle op die ouderdom van 55 wil aftree. Maar as hulle uitstel en eers op 40 of 45 begin spaar, sal hulle tussen 44 en 70 persent van hul inkomste moet belê om genoeg geld vir hul aftreedae te hê.

‘n Ander faktor wat in aanmerking geneem moet word, is dat beleggers geneig is om te konserwatief op te tree. Hulle belê vir aftrede sonder dat hulle in hul portefeuljes iets inbou wat inflasie sal klop.

Party beleggers meen die moontlikheid is skraal dat hulle hul kapitaal sal verloor, maar hulle weet (of dink) nie daaraan dat hul beleggings dalk nie met inflasie sal tred hou nie.

Die prentjie lyk selfs slegter wanneer bereken word wat hul nabelaste inkomste sal wees wanneer hulle aftree.

Ten slotte: dit is noodsaaklik dat die beleggingsproses nie moet eindig wanneer mense die aftree-ouderdom bereik nie.

Een van die ernstigste foute wat mense begaan, is om by aftrede al hul spaargeld in kontant om te skakel om beleggingsrisiko’s te ververminder of te vermy.

Baie mense is onbewus van die nadelige uitwerking daarvan as hulle te vroeg te konserwatief optree.

Weens verskeie faktore, soos die vooruitgang in die mediese wetenskap, lewe mense nou langer as ons voorgangers. Diegene wat aftree, behoort genoeg te hê om nog 20 of 30 jaar lank ‘n aanvaarbare inkomste te hê.

Dit is dus uiters belangrik dat ‘n mens se batebasis ‘n paar jaar ná aftrede steeds bo die inflasiekoers moet groei, teen risikovlakke wat geskik is vir iemand wat ‘n inkomste trek.

Tussengangers speel dus ‘n deurslaggewende rol deur beleggers te lei om deeglik te beplan sodat hulle met waardigheid kan aftree.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.