Diversifikasie – vriend of vyand?

Diversifikasie is ‘n breë begrip wat baie aspekte insluit en verteenwoordig, veral ten opsigte van beleggings, skryf Pieter Willem Moolman.

Wat diversifikasie vir beleggers inhou, is een aspek. Of dit moontlik is om optimaal te diversifiseer, is ‘n ander vraag.

Suid-Afrika verteenwoordig minder as een persent van die wêreld se ekonomie en die vraag is of jou beleggings optimaal gediversifiseer is as jy 80 tot 100 persent van jou welvaart in hierdie land hou.

Die antwoord is waarskynlik “nee”.

Diversifikasie is ‘n risiko-bestuurstegniek waarmee ‘n breë verskeidenheid bates en/of beleggings in een portefeulje saamgebring word. Dit verminder gewoonlik risiko-blootstelling en is daarop gemik om beleggings so te versprei dat hulle oor ‘n gegewe tydperk in verskillende omstandighede verskillend sal reageer.

Dat jou beleggings deur verskillende batebestuur-ondernemings bestuur word, beteken dus nie noodwendig goeie diversifisering nie.

Theo Vorster het op 17 Mei verlede jaar in ‘n artikel op Netwerk24 die belangrikste diversifikasiebeginsels uitgewys wat deel van elke portefeulje behoort te wees.

Volgens hom moet ‘n mens deeglik kyk na diversifisering tussen verskillende bateklasse, veral ten opsigte van aandele, kontant, skuldbriewe en eiendom.

Daarby moet geografiese diversifikasie tussen lande en hul geldeenhede in aanmerking geneem word.

Tyd speel ook ‘n belangrike rol in die strategie om wisselvalligheid te bowe te kom. Beleggers wat koop of verkoop, moet dit oor ‘n tydperk doen en nie op een slag nie.

En onthou gerus maar dat, ten opsigte van beleggings en die bestuur van risiko’s en opbrengs, níks sonder risiko is nie.

Goeie diversifisering is die beste manier om terugslae te vermy, maar daar is ook ‘n ander feit wat nie uit die oog verloor moet word nie: ‘n mens kan té gediversifiseerd wees.

Dit kan veroorsaak dat jy minder as jou verwagte opbrengs uit jou beleggings kry.

Deur te veel maatskappye en fondse in ‘n portefeulje te betrek, kan veroorsaak dat die goeie prestasies van sekeres geneutraliseer word deur ‘n gebrek aan prestasies van ander.

Diversifikasie bly dus ‘n beginsel wat deeglik bestudeer moet word. Die strewe na ‘n goeie balans is altyd deurslaggewend.

Daarom noem ek weer twee van die riskantste benaderinge wat beleggers moet vermy: gulsigheid aan die een kant en oorversigtigheid aan die ander.

‘n Goed gediversifiseerde portefeulje behoort oor ‘n bepaalde tydperk die gewenste opbrengs mee te bring, maar daar is geen bloudruk nie. Mense se omstandighede en gewilligheid om risiko’s aan te gaan, speel ‘n rol.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.