Spaar vróég vir aftrede en waak teen konserwatisme

Beleggers wat vroeg vanjaar reeds belangrike besluite moet neem, betree ‘n ongelyke speelveld waarop ‘n mens figuurlik en finansieel kan seerkry, skryf Pieter Willem Moolman.

Onseker markte, onstabiele wisselkoerse en lae rentekoerse bring nuwe uitdagings mee. En moenie die politiek vergeet nie.

Een van die eerste take op die lys van dinge wat gedoen moet word, is om seker te maak jy gaan genoeg geld hê wanneer jy die dag aftree. Te veel mense begin te laat spaar.

Jong mense sê maklik hulle kan nie nou al aan aftree dink nie. Hulle móét eenvoudig sekere noodsaaklikhede – soos ‘n ryding – aanskaf. Om van ‘n woonplek en meubels nie eens te praat nie.

Wanneer hulle hul eerste salaristjeks of bonus kry, is spaar vir aftrede nie boaan die lys van uitgawes nie. Dié noodsaaklikheid word uitgestel en op dié manier verkort baie mense die tydhorison van hul beleggings.

Die gevolge van saamgestelde rente oor ‘n lang tydperk word in finansiële kringe soms die agtste wonder van die wêreld genoem, want dit is een van die beste beleggingsinstrumente.

Almal wat geld verdien, moet aangemoedig word om so vroeg moontlik te begin spaar, want hoe langer ‘n belegging se tydhorison is, hoe groter is die opbrengs van saamgestelde rente.

Ten tweede: wanneer mense uiteindelik vir hul aftrede begin belê, onderskat hulle dikwels die deel van hul salaris wat gespaar moet word.

Diegene wat in hul vroeë jare 20 begin spaar, moet tussen 13 en 20 persent van hul salaris spaar as hulle op die ouderdom van 55 wil aftree. Maar as hulle uitstel en eers op 40 of 45 begin spaar, sal hulle tussen 44 en 70 persent van hul inkomste moet belê om genoeg geld vir hul aftreedae te hê.

‘n Ander faktor wat in aanmerking geneem moet word, is dat beleggers geneig is om te konserwatief op te tree. Hulle belê vir aftrede sonder dat hulle in hul portefeuljes iets inbou wat inflasie sal klop.

Party beleggers meen die moontlikheid is skraal dat hulle hul kapitaal sal verloor, maar hulle weet (of dink) nie daaraan dat hul beleggings dalk nie met inflasie sal tred hou nie.

Die prentjie lyk selfs slegter wanneer bereken word wat hul nabelaste inkomste sal wees wanneer hulle aftree.

Ten slotte: dit is noodsaaklik dat die beleggingsproses nie moet eindig wanneer mense die aftree-ouderdom bereik nie.

Een van die ernstigste foute wat mense begaan, is om by aftrede al hul spaargeld in kontant om te skakel om beleggingsrisiko’s te ververminder of te vermy.

Baie mense is onbewus van die nadelige uitwerking daarvan as hulle te vroeg te konserwatief optree.

Weens verskeie faktore, soos die vooruitgang in die mediese wetenskap, lewe mense nou langer as ons voorgangers. Diegene wat aftree, behoort genoeg te hê om nog 20 of 30 jaar lank ‘n aanvaarbare inkomste te hê.

Dit is dus uiters belangrik dat ‘n mens se batebasis ‘n paar jaar ná aftrede steeds bo die inflasiekoers moet groei, teen risikovlakke wat geskik is vir iemand wat ‘n inkomste trek.

Tussengangers speel dus ‘n deurslaggewende rol deur beleggers te lei om deeglik te beplan sodat hulle met waardigheid kan aftree.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Bestuur jou korttermynversekering deurgaans

Die jongste misdaadstatistieke, daaglikse berigte van padongelukke en artikels oor veranderende weerpatrone behoort elke volwasse Suid-Afrikaner te laat besef hoe onontbeerlik korttermynversekering is, skryf Pieter Willem Moolman.

Baie mense wat tot onlangs gemeen het hulle is voldoende teen allerlei terugslae verseker, begin nou twyfel.

Dit is in elk geval noodsaaklik dat elke polishouer gereeld ? minstens een keer per jaar ? alle besonderhede deeglik bekyk. Dit behels ook ‘n deeglike opname van die goedere wat verseker behoort te wees.

Vir die meeste mense is dit sleurwerk; ‘n pynlike proses om te gaan tel hoeveel beddens, stoele, tafels, kussings en ander huishoudelike goedere hulle het en te bepaal wat die vervangingswaarde daarvan is.

Maar dit is nou maar eenmaal so dat die onus op jóú rus om jou bates ten volle verseker te hou. Die blote feit dat ‘n versekeringspremie elke maand van jou bankrekening afgetrek word, beteken nie jou bates is genoegsaam verseker nie.

Baie mense neem inderhaas korttermynversekering uit ? gewoonlik omdat ‘n bank dit vir ‘n huurkooptransaksie of ‘n lening vereis ? en hersien dit nie gereeld nie.

‘n Mens moet eenvoudig jou versekering aanpas namate omstandighede verander; iets wat voortdurend gebeur. Die bestuur van jou korttermynversekering kan egter, soos baie paaie en strate in ons omgewing, vol slaggate wees.

Boaan die lys is ongebruikte veiligheidstoestelle. In elke huisinhoudpolis is ‘n klousule waarin die soort beskerming (diefwering, veiligheidshekke, alarms ensomeer) gespesifiseer word.

Baie versekerdes versuim om sulke toestelle in stand te hou en laat hulle mettertyd in onbruik verval. Dit is ‘n groot fout, want ‘n mens sal nie gedek wees as die gespesifiseerde veiligheidstoestelle nie in ‘n goeie werkende toestand is en nie gebruik word nie.

Onderversekering is ‘n ander algemene fout. As jy nie elke jaar daardie paar uur afstaan om ‘n inventaris te voltooi nie, kan dit jou duur te staan kom.

As jy onderverseker is, sal jou versekeraar slegs ‘n proporsionele deel uitbetaal van die totale bedrag waarvoor jy verseker is.

Wanneer jy verhuis, is dit eweneens belangrik om jou makelaar of versekeraar daarvan in kennis te stel. Die sekuriteitsmaatreëls wat jy vir jou oorspronklike adres gespesifiseer het, gaan nie noodwendig vir jou nuwe woning voldoende wees nie.

Jou nuwe tuiste moet opnuut deur jou versekeraar geëvalueer word, aangesien dit ‘n nuwe risiko is en moontlik in ‘n ander gebied met ander omstandighede geleë is. Al dié faktore kan jou maandelikse premie en dekking beïnvloed.

Daarby móét ‘n mens jou versekeraar in kennis stel wanneer jy verbeteringe of verbouings aan jou woning aanbring. Een van die redes is dat diefwering en veiligheidshekke meermale gedurende bouwerk tydelik afgehaal of verskuif word.

Iets anders: mense wat motorversekering uitneem, benoem soms ‘n “gereelde bestuurder” wat in der waarheid nié die gereelde bestuurder is nie. Op dié manier probeer hulle ‘n goedkoper premie bekom.

In die geval van ‘n ongeluk of skade aan die motor, kan sulke wanvoorstellings ‘n negatiewe invloed op jou bybetaling en dekking hê. Jou eis kan geweier word of, waar jou basiese bybetaling afgekoop is, kan jy selfs vir ‘n bybetaling aanspreeklik gehou word.

Verder aanvaar motorversekeraars dat jou voertuig padwaardig is. As dit nie die geval is nie – soos wanneer die assessor bevind dat die bande afgeloop of die remskoene gedaan is – bestaan ‘n moontlikheid dat jy nie teen die skade gedek sal wees nie.

Maak dus tyd om jou versekering met behulp van ‘n goeie makelaar te bestuur.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Wat is jou finansiële eindbestemming?

Waarheen is jy, finansieel gesproke, op pad?

Die vraag wat elkeen van ons onsself moet vra, is of ons finansieel onafhanklik is. Of, anders gestel, of ons op die pad na finansiële onafhanklikheid is, skryf Pieter Willem Moolman.

Dit mag jou dalk skok om te hoor dat slegs vier persent van Suid-Afrikaners hul daarop kan roem dat hulle nie op iemand of iets anders aangewese is wanneer dit by finansies kom nie. Die kanse is dus goed dat vandag se rubriek op jou van toepassing is.

Maar wat is finansiële onafhanklikheid dan nou eintlik? In sy eenvoudigste vorm, beteken dit dat jou bates – insluitende eiendom – ‘n passiewe inkomste genereer wat jou maandelikse uitgawes dek.

Indien jou uitgawes dus byvoorbeeld R18 000 is en jou opbrengs R20 000, het jy ‘n surplus van R2 000 sonder om ‘n steek werk te doen.

Dis werklik hoe eenvoudig dit is. Dit het niks te doen met hoeveel geld jy in die bank het of hoe groot jou salaris is nie.

Daar is drie beginsels wat jou kan help op jou paadjie na finansiële onafhanklikheid.

Begin deur jou inkomste met jou uitgawes te vergelyk. Stel ‘n begroting op en sien presies hoe jy jou geld bestee.

Jy sal vinnig sien of jy ‘n surplus aan die einde van die maand het en of jy ‘n oortrokke-gerief, kredietkaart of lenings nodig het om jou lewenstyl te finansier. Indien jy een van die gelukkiges is wat elke maand geld oor het, is die volgende vraag wat jy daarmee moet maak.

Die tweede beginsel behels jou finansiële doelwit of visie. Jy droom dalk oor hoeveel jy wil verdien en wat jy graag wil hê en doen wanneer jy aftree.

Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat, losweg vertaal, lui dat indien jy nalaat om te beplan, jy beplan om onsuksesvol te wees. Die oorgrote meerderheid van die bogenoemde 96 persent beland juis in die penarie omdat hulle nie finansiële doelwitte stel nie – anders gestel, omdat hulle planloos is.

Die derde beginsel sentreer rondom die finansiële gewoontes wat jy moet verander om te kom van waar jy nou is tot waar jy wil wees. Dus die padkaart, of roete, wat jy gaan volg tot onafhanklikheid.

Dis soos om van Port Elizabeth na Oos-Londen te reis met die hulp van satelliet-navigasie of ‘n padkaart. Jy moet weet waar jy jouself bevind, waarheen jy op pad is en die aanwysings volg wat jou die maklikste en vinnigste tot by jou bestemming sal neem.

Stel jou finansiële doelwitte en werk hard om hulle te verwesenlik, maar aanvaar dat daar terugslae gaan wees. Moet net nie tou opgooi nie, want aanhouer wen.

Onthou, die enigste plek waar sukses voor werk kom, is in die woordeboek.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Hoe en wat om te verseker

In die tye waarin ons leef, sou die ideaal wees om al ons aardse besittings volledig teen verliese en skade te dek, skryf Pieter Willem Moolman.

Dit is natuurlik moontlik, maar dit sou in ‘n duur spulletjie ontaard as jy alles teen alle gebeurlikhede wou verseker.

Elkeen van ons kom dus by ‘n punt waar ons moet besluit of dit finansiële sin maak om sekere items of gebeurlikhede te verseker. Ons persoonlikhede en houding met betrekking tot risiko’s en sekuriteit speel gewoonlik die grootste rolle in dié besluit.

Finansiële vermoë speel ook natuurlik ‘n rol, maar dan kan mens ook seker redeneer dat mense wat die premie kan bekostig, waarskynlik genoeg geld het om die artikel self te vervang.

Neem byvoorbeeld digitale toerusting soos kameras en selfone. ‘n Paar jaar gelede het ons ‘n arm en been daarvoor betaal, terwyl ons deesdae dieselfde of beter teen ‘n fraksie van die prys kan kry.

Ons kan óf ‘n klein maandelikse premie daarvoor betaal, of besluit om dit mooi op te pas en ‘n nuwer model aan te skaf indien iets onvoorsiens sou gebeur. Dis vir baie van ons ‘n maklike besluit.

Wat motors betref, het ons die keuse om elke maand ietwat meer te betaal en dan huur die versekeringsmaatskappy vir ons ‘n motor vir 30 dae terwyl dit ná ‘n ongeluk herstel word.

Hierdie opsie word dikwels opsy gevee met opmerkings soos dat ons eerder ons vrou se motor sal gebruik of ons pa se ou Volksie wat onder die afdak staan. Maar die dag wat ons die oproep oor die ongeluk-eis kry, moet die kinders skool toe vervoer word en die Volksie se battery is pap.

Vir die meeste mense is hierdie verskansing teen ongerief, en om op iemand anders se knoppie te moet druk, die koste werd.

Dan is daar juweliersware soos daai verloofring wat destyds ‘n plaas se geld gekos het. Die maandelikse premie om dit teen all risiko’s te verseker kan ‘n hele paar rand beloop en sommige mense mag dalk verkies om eerder daai geld by ‘n uittree-annuïteit te voeg.

Daar is dikwels misverstande oor “alle risiko”-items wat nie gespesifiseer is nie. Tipiese eise hieronder is vir ‘n donkerbril wat op die strand of baadjie wat by die restaurant agtergebly het.

Eis as jy moet, maar wees versigtig vir gereelde klein eise wat op agterlosigheid dui. Jou eise-geskiedenis kan jou inhaal en jou premie beïnvloed.

Maak ook seker watter items nie onder alle risiko of huisinhoud gedek word nie. Ek dink byvoorbeeld aan skootrekenaars, GPS-toestelle, bergfietse en branderplanke wat gespesifiseer behoort te wees.

Klein items wat maklik en teen relatief lae koste vervang kan word, is dikwels duur om te verseker. Deur wakker en versigtig te wees, kan ons verliese voorkom en geld spaar.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Sleutelpersoonversekering nóú noodsaaklik

‘n Maatskappy kan maklik sink wanneer dit ‘n sleutelpersoon verloor, maar gelukkig is daar maniere om sulke terugslae te bowe te kom, skryf Pieter Willem Moolman.

Eienaars moet in vandag se ekonomiese omstandighede kennis neem van die belangrikheid van kontinuïteitsbeplanning, wat vir elke moontlike gebeurtenis voorsiening maak.

Omdat soveel klein-, medium- en mikro-ondernemings op die kennis, vaardighede en verhoudings van ‘n paar sleutelpersone aangewese is, is die versekering van sulke personeellede ‘n uiters belangrike bestanddeel van kontinuïteitsbeplanning.

Dié tipe langtermyn-risikoversekering is iets wat in die moderne sakewêreld noodsaaklik geword het en daarom word dit heel gepas sleutelpersoonversekering genoem.

Dié versekering verskaf dekking vir die onverwagse dood of langtermyn ongeskiktheid van sleutelpersone, wat ‘n bedreiging vir die stabiliteit, winste en toekomstige lewensvatbaarheid van die onderneming kan inhou.

Die lewe van ‘n dinamiese werknemer – iemand wat daadwerklik tot die maatskappy se welslae bydra – kan ook verseker word, sowel as die entrepreneur wie se vaardighede die vernaamste dryfkrag agter die onderneming is.

Om die dienste van ‘n vaardige en hoogs gekwalifiseerde mens te bekom en te beskerm is nie altyd maklik nie. Sulke werknemers dra gespesialiseerde vaardighede en kennis by wat deurslaggewend tot die welslae van die onderneming is en uiters moeilik is om te vervang.

Wanneer hulle nie meer daar is nie, kan die maatskappy se winste ernstig geknou word en sodoende kan dit selfs moeilik raak om finansiering te bekom.

Dit kan ook beteken dat duur stappe gevolg moet word om ‘n plaasvervanger te kry en op te lei.

Dit kan selfs gebeur dat skuldeisers wat van die dood van ‘n belangrike lid van die personeel verneem, daarop aandring dat hulle dadelik betaal word.

Daarby kan belangrike betrekkinge met kliënte in die slag bly as so ‘n vakature ontstaan.

Versekering teen die verlies van sleutelpersone verskaf ‘n byna onmisbare veiligheidsnet vir kwesbare ondernemings en is veral belangrik vir een wat deur die eienaar self bestuur word en waarvan die volhoubaarheid in die hande van een of twee individue is.

Nog ‘n faktor wat deeglik oorweeg moet word, is die implikasies van boedelbelasting. Omdat die opbrengs van sleutelpersoonversekering aan die werkgewer of sakevennoot betaal word, aanvaar die versekerde soms dat boedelbelasting nie van toepassing is nie.

Dit is dikwels wel die geval, maar daar kan uitsonderinge wees, afhangende van die struktuur van die ooreenkoms.

Praat vandag nog met jou finansiële raadgewer om die toekoms van jou onderneming te verseker.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Lewenspolisse is nie dieselfde nie

‘n Mens hoor dikwels “‘n Lewenspolis is ‘n lewenspolis – dit betaal uit by dood”, skryf Pieter Willem Moolman.

Indien jy een van die mense is wat só dink, het ek vir jou vandag ‘n verrassing. Lewenspolisse is nie ‘n een-grootte-pas-almal tipe produk nie en daarom is dit belangrik dat mense en ondernemings seker maak hul polisse voldoen aan hul unieke behoeftes.

Twee aspekte wat ek graag in hierdie rubriek wil uitlig, is die kwessies rondom premie-patrone en waarborgtermyne.

Eersgenoemde verskil van polis tot polis en kan die maandelikse bedrag wat betaalbaar is noemenswaardig beïnvloed.

Die eerste voorbeeld is premies wat op ouderdom gebaseer is. Hierdie tipe is gewoonlik aanvanklik goedkoper, maar werk duurder oor die langtermyn uit.

Premies wat teen ‘n vaste persentasie per jaar styg is, soortgelyk, ook aanvanklik goedkoper.

Dan is daar lewenspolisse waar die premie aan ‘n vaste periode – gewoonlik 15 jaar – gekoppel is en dan geweldig ten tyde van hernuwing styg.

Die ander opsie is gelykblywende premies, waar die bedrag vir die leeftyd van die produk dieselfde bly. Dit is gewoonlik duurder aan die begin, maar koste-effektief oor die langtermyn.

Hier het jy ook die keuse om jou premie met ‘n sekere persentasie per jaar te laat styg.

Finansiële tussengangers mislei dikwels kliënte wanneer dit by maandelikse premies kom en polisse word telkemale vervang omdat dit kwansuis “goedkoper” is. Omdat premie-patrone verskil, is dit baie keer nie die geval nie.

Waarborgtermyne, aan die ander kant, beteken dat die gekwoteerde premie en dekking vir ‘n sekere periode gewaarborg is.

Ná afloop van die termyn, word die winsgewendheid van die risikopoel beoordeel en, indien dit ‘n verlies maak, kan premies drasties verhoog word. Indien die verhoogde risikopremies nie betaal kan word nie, kan die dekking selfs verlaag word.

Die rol van lewenspolisse moenie lig geskat word nie aangesien dit dikwels die enigste manier vir ‘n persoon is om sy gesin by ontydige dood finansieel onafhanklik te laat.

Maak seker jy het genoeg lewensdekking vir boedelkostes soos eksekuteursfooie, boedelbelasting, kapitaalwins en so aan asook vir die delging van skuld en om in jou afhanklikes se behoeftes te voorsien.

Onthou ook goedkoop koop is duurkoop. Wees dus gewaarsku om nie net die goedkoopste opsie te aanvaar nie – vervanging van lewenspolisse is potensieel gevaarlik.

Werk saam met jou finansiële beplanner om ‘n plan vir jou behoeftes saam te stel.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Belastingwetgewing dryf finansiële beplanning

Deeglike finansiële beplanning, wat boedelbeplanning insluit, is nie ‘n eenmalige oefening in jou leeftyd nie, skryf Pieter Willem Moolman.

Veranderende wetgewing noodsaak individue en ondernemings om hul planne en strukture deurgaans aan te pas om te verseker hulle sit nie eendag in ‘n katastrofiese finansiële situasie nie.

Vandag bespreek ek die invloed van drie onlangse belastingwysigings.

Dit is nie meer ‘n geheim dat inter vivos-trusts as boedelbeplanningsmeganisme in die soeklig is nie. Inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting en dividendbelasting vir trusts het die afgelope jare drasties verander.

‘n Nuwe artikel in die wet, wat gaan oor die belasbaarheid van rentevrye lenings, krap sake verder om. Hierdie wysigings noodsaak verdere beplanning en lei tot sekere vrae.

Die eerste is of trustbates nie dalk na ‘n privaat-maatskappy, waarin die trust 100 persent belang het, oorgedra moet word nie. Met so ‘n oordrag word die voordeel van trusts as boedelbeplanningsmeganisme behou aangesien die maatskappy meer buigbaar is en ander voordele het.

Die kapitaalwinsbelasting in trusts is byvoorbeeld ‘n effektiewe 36 persent teenoor die 22.6 persent van privaat-maatskappye. Verder is die terughoudingskoers vir dividendbelasting in trusts 20 persent, terwyl geen dividendbelasting in maatskappye gehef word tot tyd en wyl dividende uitgekeer word nie.

‘n Verdere vraag is of rentevrye lenings nie anders hanteer moet word nie. Hier is ook verskeie opsies wat grootliks van die bedrag van die lenings afhang.

Lenings van rondom R1-miljoen in trusts behoort nie probleme te veroorsaak nie as gevolg van die jaarlikse skenkingstoelaag van R100 000. In sekere gevalle sal dit egter meer voordelig wees om ‘n lening as ‘n skenking te hanteer en 20 persent skenkingsbelasting te betaal.

Boedelbelasting het die afgelope jaar 20 persent gebly en die korting, volgens die wet, is R3.5-miljoen. In ‘n man en vrou se geval kan dit oorgedra word, so maak seker hierdie korting word optimaal benut.

‘n Ander belastingwysiging wat veral boere raak, het onlangs die lig gesien. By dood word lewendehawe en ander boerderybates nou anders hanteer.

Die volle markwaarde daarvan word nou as inkomste vir inkomstebelasting geag en nie meer soos in die verlede as kapitaalwins hanteer nie.

Dit noodsaak boere om hul sakestrukture te heroorweeg en ‘n oordrag van bates na ‘n maatskappy kan weereens hier ‘n moontlike opsie wees.

My boodskap vandag is om deurgaans na jou finansiële beplanning te kyk en tred te hou met veranderende omstandighede en wetgewing.

Daar is geen bloudruk nie. Elkeen se situasie en behoeftes is uniek en moet sodanig hanteer word.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Families kan boedelverdeling vergemaklik

‘n Leser wil weet of dit moontlik is om ‘n testament te wysig indien al die erfgename saamstem, skryf Pieter Willem Moolman.

Ons weet almal die verdeling van bates uit ‘n boedel kan problematies wees en dat baie families mekaar al in die hof gepak het.

Rusies kan natuurlik tot vertragings in die afhandeling van die boedel lei, maar dit kan voorkom word as die erfgename onderling ooreenkom of ‘n herverdelingsooreenkoms sluit. So kan baie van die probleme op ‘n informele wyse opgelos word.

Om ‘n suiwer regstegniese voorbeeld te gebruik, kan ons na ‘n man kyk wat sy boedel in gelyke dele aan vier meerderjarige en bevoegde persone bemaak. Sy netto-boedel bestaan uit ‘n woonhuis, meubels, vuurwapen, motor, aandele, effektetrusts en kontant.

Elkeen van die erfgename het dus ‘n kwart onverdeelde aandeel in elkeen van hierdie bates. Met die oordrag van die woonhuis, aandele en effektetrusts, asook met die verdeling van die kontant, behoort daar nie probleme te wees nie.

Daar kan egter praktiese probleme met die verdeling van die voertuig, die vuurwapen en meubels ontstaan. Elkeen kan tog nie ‘n stukkie van die motor of ‘n stoel van die eetkamerstel gryp nie.

Soms is die verdeling van sekere bates ook net nie moontlik nie, of dit is volgens bepaalde wette en regulasies onverdeelbaar, soos byvoorbeeld landbougrond. In sulke gevalle kan die eksekuteur van die boedel genoodsaak wees om die moeilik verdeelbare bates te realiseer indien geen ooreenkoms bereik word nie.

Samewerking en onderlinge ooreenkoms tussen erfgename kan dus ‘n baie belangrike rol in die bereddering van ‘n boedel speel en hul besluite oor die herverdeling van bates moet op skrif gestel word.

Daarmee word die eksekuteur gemagtig om die bates te verdeel en aan elkeen die deel te oorhandig wat hy of sy graag sou wou ontvang.

Die herverdelingsooreenkoms moet aan sekere vereistes voldoen. Slegs die begunstigdes wat ‘n belang by die herverdeling het en die eksekuteur is partye tot die ooreenkoms.

Waar die oorledene binne gemeenskap van goedere getroud was, kan die halwe, onverdeelde aandeel van die gemeenskaplike boedel wat aan die nagelate gade behoort by die ooreenkoms ingesluit word, mits die gade ook ‘n party tot die ooreenkoms is – selfs al is hy of sy nie ‘n erfgenaam nie.

As minderjariges betrokke is, moet hul voogde namens hulle ‘n party tot die ooreenkoms wees en is daar bykomende vereistes waaraan voldoen moet word.

Alle getekende herverdelingsooreenkomste is onderhewig aan die Meester van die Hooggeregshof se goedkeuring tydens die nasiening van die likwidasierekening.

Bogenoemde behoort plan B te wees. Plan A is om seker te maak ‘n herverdelings-ooreenkoms is nie nodig nie.

Vra vir jou finansiële beplanner om jou te help om ‘n behoorlike boedelplan en eenvoudig dog prakties uitvoerbare testament op te stel.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Karaktereienskappe van ‘n suksesvolle persoon

Vandag wil ek ietwat wegbeweeg van ‘n suiwer finansiële preek en op die karaktereienskappe van suksesvolle entrepreneurs fokus, skryf Pieter Willem Moolman.

Gedurende die afgelope dertig jaar in die sakewêreld was ek in die bevoorregte posisie om te kon waarneem hoekom sekere persone suksesvol is en ander nie.

Hulle glo in hulself; tot die man toe. Dis hoekom ek gedurig sê die beste belegging is om in jouself te belê – en dan praat ek nie van motors, klere en duursaamhede nie.

‘n Belegging in jou eie onderneming gee normaalweg ‘n bogemiddelde opbrengs en jóú beheer oor jou toekoms.

Entrepreneurs het die vermoë om besluite te neem. Hierdie eienskap is kardinaal belangrik aangesien besluite daartoe lei dat dinge gebeur.

Ongelukkig plaas dit druk op individue omdat daar dikwels vinnige en ongewilde besluite geneem moet word. Goeie sakegeleenthede kan egter skipbreuk ly wanneer daar ‘n gebrek aan spoedige besluitneming is.

Soms gaan verkeerde besluite geneem word. Dit is deel van besigheid en daar moet planne in plek wees om ‘n alternatief in werking te stel.

Waagmoed, of meer wetenskaplik gestel, ‘n aptyt vir risiko is ‘n verdere en noodsaaklike karaktereienskap van ‘n entrepreneur. As jy nie bereid is om uit jou gemaksone uit te beweeg nie, gaan jy sukkel om groot suksesse te maak.

Die sakewêreld is maar ‘n onsekere omgewing en faktore wat buite ons beheer is, kan ‘n groot invloed hê. Die Engelse praat van “herd behaviour” wat jou nêrens gaan bring nie – jy sal moet waag om, soos die spreekwoord sê, te kan wen.

Dink gróót! Baie van ons onderskat ons vermoë en dink in die proses te klein. Dit kan en sal die groei van jou onderneming beïnvloed.

Suksesvolle sakemense maak tyd om te dink. Maak seker jy kom uit die enjinkamer van jou besigheid uit om aandag aan aspekte soos toekomstige strategieë en moontlike sterk- en swakpunte te bestee.

Omring jou met die regte mense. Mense wat die bottel halfleeg sien kan jou en jou onderneming negatief beïnvloed.

Dit alles beteken natuurlik net mooi niks as jy nie bereid is om hard en met toewyding te werk nie.

Jy moet ‘n absolute passie hê om jou planne tot uitvoering te bring. Baie droom groot, maar misluk wanneer dit by uitvoering kom.

Onthou, teleurstellings en mislukkings is deel van die groeiproses. Wees geduldig en moenie dat dit jou langtermynplanne beïnvloed nie.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.

Boedelontleding vereiste vir ‘n testament

‘n Noukeurige boedelontleding is van onskatbare waarde vir enigeen wat ‘n inkomste verdien , skryf Pieter Willem Moolman.

En een van die eerste vrae wat beantwoord moet word, is wat die invloed van boedelbelasting gaan wees wanneer jy tot sterwe kom.

‘n Finansiële beplanner sal kan bepaal of boedelbelasting betaalbaar gaan wees en of daar wettige maniere – soos die moontlike herstrukturering van besigheidstrukture – is om dit te beperk.

Moet ook nie die invloed van kapitaalwinsbelasting onderskat nie en, indien jy buite gemeenskap van goedere met inbegrip van die aanwasbedeling getroud is, maak seker jy weet hoe die aanwasbedeling jou boedel gaan raak.

Kom ons kyk na die voorbeeld van ‘n boer wat sy onderneming in 20 jaar gelede begin het toe hy en sy vrou so te sê niks op hul naam gehad het nie.

Sy netto boedel – minus die lewensversekering wat aan sy vrou begunstig is – staan nou op sowat R40 miljoen. Sy bates bestaan hoofsaaklik uit plase.

In sy testament word bepaal dat sy plase aan sy trust bemaak word en die restant aan sy vrou.

Wat hy nie besef het nie, is dat sy vrou ‘n aanwas-eis van om en by R20m teen die boedel sal hê indien hy nou sou sterf. En dít moet uit sy boedel betaal word.

Hy sal dus seker moet maak daar is genoeg geld in die boedel om uitgawes soos uitstaande skuld, aanwas-eise en kontantbemakings te dek. Daaronder val ook boedelkoste, wat meesters- en eksekuteurstariewe, boedelbelasting en kapitaalwins insluit.

Dit bring ‘n mens terug by versekering. As daar nie genoeg kontant in die boedel is nie, bied lewensversekering ‘n eenvoudige manier om dit reg te stel.

‘n Testament bly maar een van die belangrikste aspekte van boedelbeplanning en daarom moet ‘n mens seker maak dis geldig, eenvoudig en prakties uitvoerbaar.

Dit is natuurlik baie makliker om een op te stel indien jy ‘n boedelontleding gedoen het. Jy moet immers weet wát jy kan bemaak.

Dit sal verhoed dat jy iets bemaak wat nie bestaan nie of dat erfgename onaangename verrassings kry.

‘n Kliënt wat sy onderneming aan sy inter vivos-trust en die res van sy boedel aan sy vrou bemaak het, was baie verbaas toe ek aan hom uitgewys het sy gaan niks erf nie.

Hy het gemeen die restant bestaan uit omtrent R3m plus sy persoonlike besittings, maar ek het bereken die boedelkoste beloop sowat R4m.

Wat ek dus sê, is dat ‘n volledige boedelontleding ‘n vereiste vir ‘n sinvolle en maklik uitvoerbare testament is.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth.

Kontak ons vir meer finansiële en beleggingsadvies.